Oor berge en dale, deur modder en water
Bergfietsry is 'n uitdagende sport. Die ryers moet uitstekende balans hê en die fiets oor klippe, deur strome en skerp draaie kan stuur. Dié Hoekies mag maar bergfiets ry.
VANDERBIJLPARK – Om aan ʼn 40 km bergfiets halfmarathon deel te neem vra baie durf en deursettingsvermoë.
As dit boonop op ʼn koue wintersdag geskiet deur modder, oor klippe en met styl opdraandes deur lang gras en bos, dan kan mens net hoed afhaal vir die fietsryers.

Saterdag het vier van Hoërskool Driehoek se leerders presies dit gedoen. Hulle het aan die Trailseeker #3 by Van Gaalen Kaasplaas naby Hartbeespoortdam deelgeneem. Meer as 1800 bergfietsryers het die uitdagende 40km halfmarathon aangedurf.
Hoërskool Driehoek het op hul Facebookblad gesê: “Martinique Trollip en Mieke Erasmus het albei uitstekend gevaar deur in die Top 10 van die Junior Meisie-kategorie te eindig, asook onder die Top 20 vroue algeheel uit meer as 100 deelnemers.

“Dewin Roos het waardevolle ervaring opgedoen tydens sy heel eerste halfmarathonwedren. Ten spyte van meganiese probleme met sy fiets, het hy steeds daarin geslaag om binne die top 50% van die deelnemers te eindig.”
Angelique Trollip het die Short-wedren oor 20km deelgeneem en was die eerste jeugdogter oor die wenstreep en het algeheel 36ste geëindig uit meer as 160 vroue.

Die skool het die vier geloof vir hul prestasie op die dag en gesê: “Die dag het yskoud begin, maar vir ons Hoekie-ryers vuurwarm geëindig! Baie geluk aan al vier ryers met hul uitstekende prestasies. Julle maak ons trots!”