Twee pad-swembaddens in een straat
RUBRIEK - 'n Mens waardeer jou eie dorp se slaggate wanneer jy besef daar is plekke waar die gate erger is, baie erger.
RUBRIEK – Waar jy ook al bly, weet jy hoe om die slaggate in jou omgewing te vermy. Jy ry dalk soos ʼn dronk bestuurder kruis en dwars oor die pad, maar ten minste weet jy waar is watter gat.
Soms bevind jy jou egter in ʼn plek wat jy nie ken nie.
Gister was ek in Duncanville. ʼn Plek waar ek my nie gereeld bevind nie, want my area is Vanderbijlpark, Vaalpark en Sasolburg. Ek het derhalwe my na Antie Google gewend om nie te verdwaal nie.
Op pad na die plek beland ek in ʼn straat met baie gate. Met ʼn groot geskud, baie uitswaai en ʼn kners van tande bereik ek darem die plek sonder enige voorvalle.
Voordat ek vertrek gee ek vir Antie Google opdrag om my huis toe te neem. Sy reken sy ken ʼn kortpad tot by die R54. So beland ek in Japie Krigestraat.
Ek is seker die area se inwoners weet hulle moet die straat ten alle koste vermy en ek moet sê die inwoners daarvan het al my simpatie.
Dit het relatief goed gegaan totdat ek voor in die pad blink water sien. Baie water. Ek kyk op my selfoon, Antie Google reken ek moet daardeur. Ek ry nader. Grawe my kamera uit die sak en neem eers ʼn foto deur die venster.
ʼn Voëltjie bad in die water. Sy bene is kort, dus neem ek aan die water is nie diep nie. Ek ry nie ʼn 4X4 nie, maar ek sit Myse Ford Mich in eerste rat en trap die petrol. Die eerste pad-swembad is wyd, maar nie baie diep nie.
Dis toe ek daardeur is wat ek besef, daar is nog een. Groter, breër en langer. Anderkant die pad-swembad kan ek sien hoe ry die motors op die R54 (Houtkopweg). Omdraaiplek is daar nie. Ek moet deurry.
Aan die anderkant van die waterpoel staan ʼn man. Hy kyk vir my. Sy gesig spreek boekdele. My hande vat die stuurwiel stewiger vas en ek trap die petrol pedaal. Stadig, versigtig. Tot in die middel van die pad-swembad, toe besef ek dit raak diep.
Synde dat ek nooit ʼn gevorderde bestuurskursus gedoen het nie, het ek geen idee wat is die regte ding om te doen nie. Ek weet Johan sal sê ek moes in die eerste plek nie daar ingery het nie…
Ek trap toe maar die petrol dieper in en wonder bo wonder Myse Mich het die krag om deur die water te beur.
Ek ry daar uit asof ek dit daagliks doen en swaai flink uit vir die volgende drie slaggate voordat ek regmaak om links te draai.
Die man langs die pad kyk my steeds aan asof hy dink ek het my varkies verloor, maar ten minste het ek die R54 gekry en was ek uiteindelik op pad huis toe.