Kolskoot vir Girls with Guns 2026
Girls with Guns het vroue en jong meisies bymekaar gebring om die skietsport in ’n veilige, ondersteunende en prettige omgewing te ervaar.
PARYS – Saterdag het vroue van regoor die Vaaldriehoek by die Ballistic Beast skietbaan bymekaar gekom vir Girls with Guns 2026.
Die jongste was nege en die oudste 68 en almal het een doel vir oë gehad – om hul skietvaardighede te toets en ook soveel as moontlik pret te hê.

Van beginners tot ervare skuts het met onder andere pistole, haelgewere, .22’s en ketties verskeie uitdagings aangedurf. Die dag is georganiseer deur die dames van SA Jagters se Vaaldriehoektak en is bygewoon deur voorsitter Ettiene Botha en die hoofuitvoerende beampte van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging, Basie Bergh.
Basie het die belangrikheid van die bevordering van die skietsport onder vroue en juniors sterk beklemtoon. Volgens Christa Heymans was een van die hoogtepunte van die dag die sterk gevoel van kameraadskap wat tussen die deelnemers ontstaan het.
Vroue het mekaar aangemoedig, nuwe vriendskappe gevorm en saam die uitdagings van die verskillende bane aangepak. Die geleentheid het bewys dat die skietsport nie deur ouderdom, ervaring of agtergrond beperk word nie, maar ’n sport is wat deur almal geniet kan word.

Deur die Mystery Gongkompetisie en gelukkige trekkings is fondse ingesamel ten bate van die Lewensligsentrum in Vanderbijlpark. Die organiseerders het al die borge, vrywilligers, baanbeamptes, instrukteurs en deelnemers wat die dag moontlik gemaak het bedank.
Daar word reeds uitgesien na volgende jaar se Girls with Guns dag. Kontak gerus vir Christa Heymans of Charlotte Fourie op skietdag@gmail.com vir meer inligting
