Vliegtuie gaan hemelruim in Parys versier
Of jy nou ’n kranige lugvaartliefhebber is of net 'n unieke ervaring wil geniet saam met jou gesin, sal dit die plek wees om te wees.
PARYS – Maak gereed vir ’n opwindende dag propvol lugvaart-aksie by die Parys-vliegskou Sondag, 19 Julie van 10:00 tot 15:00.
Soos altyd sal die gesinsvriendelike geleentheid by die vliegveld plaasvind en adrenalienbelaaide lugvertonings deur burgerlike en militêre vliegtuie bied.
Die 2026-vliegskou vorm deel van ‘n baie spesiale mylpaal: Parys vier vanjaar sy 150ste bestaansjaar.
Die dorp is in 1876 gestig (genoem na Parys in Frankryk omdat die Vaalrivier die landmeter aan die Seine-rivier herinner het).

Die vliegskou is een van die anker-geleenthede op die amptelike “Parys 150”-kalender en dra by tot die groter feesgevoel in die streek.
Besoekers kan Sondag uitsien na indrukwekkende uitstallings van stilstaande vliegtuie, lugvaart-promotors, heerlike kos- en drinkgoedstalletjies, vermaak vir die kinders en nog baie meer.
Die Parys-vliegveld is perfek geleë net buite die dorp langs die R59.
Omdat dit ’n kleiner, intieme vliegveld is, bring dit toeskouers baie nader aan die aksie as groter lughawens.
Die program begin gewoonlik vroegoggend met plaaslike valskermspringers wat die lugruim oopmaak.
Die hekke maak reeds vanaf 08:00 oop sodat mense vroegtydig kan regsit en na die stilstaande vliegtuie op die grond kan gaan kyk. Die amptelike vliegprogram begin om 10:00.
