Sterre gekroon na Talentkompetisie 2026
Plaaslike dramaskole se studente het onlangs hul talent op die verhoog laat skitter.
VANDERBIJLPARK – Akademie vir Dramakuns (ADK), Encore en Purple Curtain se studente het onlangs deelgeneem aan ‘n talentaand wat by Kundstedraai gehou is.

Laatmiddag het die juniors die beoordelaars bekoor met die voordrag van monoloë, prosa en poësie in Afrikaans en Engels. Daarna het die seniors oorgeneem en hul staal op die verhoog gewys.
Uiteindelik is Zaandré Kriel (ADK) as die Senior Ster van die Talentvertoning 2026 gekroon. Reuben Jansen van Vuren (Gr 3) is as die Junior Ster aangewys.
Chris- Mari Venter van 90.6 FM en VCR TV was die seremoniemeester vir die aand. Sy het gesê sy het self Performing Arts studeer en weet hoe hoog die senuwees en opwinding onder almal wat gaan optree is.

“Vanaand is nie net ‘n gewone konsert nie. Dis ‘n prestasie-aand om dramastudente se harde werk en tegniek te vier. As jy my vra is drama ook ‘n sport.
“Maar anders as op die sportveld, waar die atlete medaljes kry, kry drama kinders gewoonlik net ‘n sertifikaat en ‘n drukkie. Met dit in gedagte wou die organiseerder graag ‘n bekostigbare platform skep waar elke kind die erkenning kry wat hulle verdien,” het sy gesê.
Die beoordelaars vir die aand was Franciska van der Merwe: Direkteur van die ADK, Tharien Oosthuizen: eienaar van Encore Dramaskool in Vanderbijlpark, Claudette Theunissen wat Purple Curtain Dramaskool het in Vereeniging en Mada Oosthuizen akteur in ‘n RSG Radio Drama saam sterre soos Rika Sennet en Bertha le Roux-Wahl. Sy is ‘n regisseur en rig tonele af by Hoër Volkskool.
