News

‘Begraafplaas’ vir gesteelde voertuie in De Deur ontbloot

Inwoners van die Vaal word versoek om nie agterdogtige voertuigonderdele te koop nie en om misdaadaktiwiteite aan te meld.

DE DEUR – ’n Stortingsterrein is ontbloot as ’n “begraafplaas” vir gestroopte en gesteelde voertuie ná ’n omvangryke, intelligensie-gedrewe operasie.

Die polisie het Vrydag, 19 Junie, op die Sun Valley-gebied toegeslaan ná weke van taktiese beplanning deur die Sedibeng-misdaadintelligensie-eenheid en ander gespesialiseerde wetstoepassingspanne.

Volgens die polisiewoordvoerder van De Deur, konstabel Mampho Mahlomola, het beamptes op die gebied toegesak nadat inligting ontvang is dat gekaapte voertuie daar eindig sodra waardevolle onderdele verwyder is.

“Talle voertuigwrakke is op die eiendom gevind wat van onderdele gestroop, en aan die brand gesteek is,” het Mahlomola gesê.

Die herwonne voertuie is na die SAPD se Voertuigbeveiligingsdienste (VSS) geneem vir forensiese ondersoek.

Onder die oorblyfsels wat gevind is, was ’n Mercedes-Benz, ’n Audi en ’n VW Polo met ’n beraamde gesamentlike waarde van R250 000.

Die SAPD het bevestig dat verskeie voertuie met sigbare voertuigidentifikasienommers (VIN’s) reeds positief as gesteel geïdentifiseer is.

Een van die herwonne voertuie word verbind met ’n kaping- en moordsaak wat deur die Kwa-Thema-SAPD ondersoek word.

Die polisie het gesê verskeie ander voertuie kon nie onmiddellik geïdentifiseer word nie omdat hul VIN-nommers doelbewus afgekrap of deur die brand vernietig is.

Mahlomola het beklemtoon dat die onwettige storting van gekaapte en gesteelde voertuie ’n ernstige bekommernis in die De Deur-area en omliggende gemeenskappe bly.

Enigiemand met inligting kan die De Deur-SAPD by 016 590 9200 of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button