Ma en babahondjies soos vuilgoed langs pad weggegooi
Die mens faal honde gereeld! Dis wreed om so iets aan 'n weerlose dier te doen!
SASOLBURG – Ses weerlose babahondjies is verlede week verlate in ’n kartondoos langs die R54 gevind.
Reg langs hulle het hul ma getrou waggehou, broos, maar vasbeslote om haar kleingoed te beskerm terwyl sy gewag het op hulp wat dalk nooit sou kom nie.
Dit is ondenkbaar dat mense so wreed kan wees om ’n ma en haar babas aan hul eie genade oor te laat.
Sonder kos, sonder water, en blootgestel aan die elemente.
As die eienaar nie die babahondjies wou hê nie, was dit hul plig om die ma te laat steriliseer, pleks van hierdie lafhartige daad.
Gelukkig het PurrPaws for Life wel tot hul redding gekom en betyds ingegryp.


“Die grootste vraag wat deur my kop gemaal het terwyl ons die hondjies veilig in die motor gelaai het, was bloot: Hoekom sal iemand so iets aan weerlose diere doen?” vertel ’n verteenwoordiger van PurrPaws.
Vandag is die weggooifamilie gelukkig veilig. Hul magies is vol, hulle slaap warm en hulle ontvang die nodige mediese sorg.
Die droom is dat elkeen van hulle binnekort ’n permanente, liefdevolle huis sal vind.
Ondersteun PurrPaws for Life
Reddingsentrums soos PurrPaws for Life funksioneer reeds onder geweldige druk en is dikwels oorvol.
PurrPaws kan hierdie noodsaaklike werk slegs met die gemeenskap se hulp voortsit.
Daar word ‘n ernstige beroep gedoen op enigiemand wat kan help met donasies, kos of komberse om asseblief betrokke te raak. Enige bydrae word opreg waardeer.
Bankbesonderhede:
Purrpaws For Life
Capitec Business Bank Vanderbijlpark
Branch Code 450137
Cheque Acc No 1050748298
