Mnr. Kosie was ‘n gebore onderwyser
Mnr. Koos Stander was 'n onderwyser in murg en been. Die nuus van sy afsterwe het sy voormalige leerlinge diep geraak.
VANDERBIJLPARK – Mnr. Koos Stander. In sy leeftyd het hy vir duisende kinders skoolgehou. Hy was vir 40 jaar by die Laerskool Hendrik van der Bijl waar hy Afrikaans, Geskiedenis en Aardrykskunde gegee het.
Mnr. Stander is 17 Junie oorlede, ʼn dag voor sy 78ste verjaarsdag. Hy was die afgelope vier jaar in die Palms Aftreeoord se versorgingseenheid.

“My oom het in my arms gesterf,” vertel ʼn hartseer Lylane Jacobs. Sy het ʼn noue band met haar oom gehad en het hom deur sy laaste moeilike jare bygestaan.
Kosie, soos wat sy familie en vriende hom geken het, het in Vanderbijlpark grootgeword. Na skool het hy onderwys by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege gaan swot.
In 1970 het hy as jong onderwyser by die Laerskool Hendrik Vanderbijll ingestap en daar het hy onderwys gegee tot met sy aftrede in 2010.
Lylane sê haar oom was ʼn omgee mens. “Hulle het hom ʼn paar maal die hoof-pos aangebied, maar hy wou met die kinders werk. Hy het ʼn groot hart gehad vir mense en diere,” sê sy.
Nadat die nuus op sosiale media van sy afsterwe gedeel is, het sy voormalige leerlinge hulde aan hom gebring en vele staaltjies vertel op verskeie Facebookblaaie.
Hy was duidelik ‘n gewilde onderwyser, maar ook ‘n gerespekteerde een. Voormalige leerlinge vertel van sy goeie sin vir humor, die briefies in hul skrifte en hoe kwaai hy kon raak as boekblaaie omvou-oortjies gehad het.
Driekie van der Merwe het gesê: “Hy was my Afrikaanse en Aardrykskunde meneer. Sjoe, hy het lekker klas gegee en hy was baie grapperig en baie netjies en kwaai ook op sy tyd. Ek was vreeslik erg oor hom.
“Ai eks nou so geskok om dit te sien. Rus sag mnr. Stander ons sal jou altyd onthou. Ons was baie bang vir hom. In sy klas het ons mooi maniere gehad.
“Ons arms moes altyd gevou gewees het en bewaar jou siel as hy klas gee en jou arms is nie gevou nie.”
Volgens Elsabe West was mnr. Kosie se klasse ‘n belewenis en sy stories Iets waarvoor hulle nie kon wag nie. Dalene Venter onthou sy bekende woorde: “Wys my ‘n kind wat lees en ek wys jou ‘n kind met ‘n toekoms!’
Hierdie getuienis van ʼn leerling wat hy in die 70’s gehelp het, som dit mooi op:
“Hy was ’n onderwyser met ’n ware passie vir sy roeping. Ek sal hom vir altyd dankbaar wees vir die geduld, leiding en toewyding waarmee hy my as Portugeessprekende leerling in 1979 gehelp het om Afrikaans beter te praat en te spel. Sy invloed het ’n blywende verskil in my lewe gemaak.” – Carlos Marques.
Mnr. Stander se gedenkdiens vind Dinsdag om 11:00 by die Palms Aftreeoord plaas.
