Bedrieërs gebruik bekende munisipale konsultant se identiteit om inwoners te kul
Verskeie inwoners het reeds geld verloor nadat bedrieërs hul as Monique Taylor van Taylored Services voorgedoen het.
VANDERBIJLPARK. – Inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit word gewaarsku teen bedrieërs wat hul as die bekende munisipale konsultant, Monique Taylor van Taylored Services, voordoen en mense uit groot bedrae geld kul.
Taylor help reeds die afgelope twee jaar inwoners om probleme met hul munisipale rekeninge op te los, insluitend foutiewe water- en elektrisiteitslesings, verkeerde heffings en ander munisipale kwessies. Juis daarom het die beweerde bedrogspul groot kommer gewek.
“Dit het onder my aandag gekom dat daar tans ’n bedrogspul aan die gang is waar individue verskeie profiele gebruik en hulself voordoen as Monique Taylor van Taylored Services,” het sy onlangs in ’n kennisgewing gewaarsku.

Taylor sê sy het van die bedrog bewus geword nadat ’n werknemer van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit haar gekontak het.
“Een van die slagoffers het na die munisipaliteit gegaan en beweer dat hulle geld aan my betaal het. Daarna het hulle steeds ’n kennisgewing ontvang dat hul dienste weens wanbetaling afgesny gaan word. Ek is toe geskakel en na kliëntedienste ontbied waar ek van die bedrog ingelig is,” vertel sy.
Verskeie inwoners het reeds geld verloor nadat bedrieërs hul as Monique Taylor van Taylored Services voorgedoen het.
Volgens Taylor het sy later ontdek dat die bedrieër foto’s van haar vanaf haar persoonlike Facebook-profiel gebruik het om ’n vals advertensie en profiel saam te stel. Die persoon het ook foto’s wat aanlyn van haar beskikbaar was gebruik om geloofwaardigheid aan die bedrogspul te verleen.
Taylor sê verskeie mense het reeds slagoffers geword.
“Dit lyk asof die persoon doelbewus bejaarde inwoners tussen 70 en 80 jaar oud teiken. Ek weet van minstens vyf mense wat reeds geld verloor het,” sê sy.
Sy het daarna op sosiale media na die vals profiel gaan soek en die persoon versoek om die bedrog te staak.

“Verskeie mense het reeds hiervoor geval. Ek voel verskriklik jammer vir hulle. Dit het my in ’n geweldige verleentheid gestel,” sê Taylor.
Taylor het die week slagoffers aangemoedig om sake by die Vanderbijlpark-polisiestasie aanhangig te maak. Volgens haar ondersoek die polisie reeds soortgelyke klagtes.
Dit lyk asof die persoon doelbewus bejaarde inwoners tussen 70 en 80 jaar oud teiken.
Taylor beklemtoon dat sy alleen werk en geen werknemers of agente het wat namens haar optree nie. Sy sê inwoners moet die nodige dokumentasie voltooi voordat sy hulle kan bystaan en dat sy slegs een amptelike kontaknommer het.
“Ek wil dit absoluut duidelik stel: My enigste nommer is 072 398 7767. Ek bedryf nie my besigheid vanaf enige ander nommer nie. Indien iemand jou vanaf ’n ander nommer kontak en beweer hulle is ek, word jy bedrieg.”
Sy voeg by dat sy nie ’n amptelike sosiale media-blad bedryf nie en doen ’n beroep op inwoners om altyd eers kontakbesonderhede te verifieer voordat enige betalings gemaak word.
Taylor het aanvanklik begin om besige inwoners te help wat nie tyd gehad het om self in munisipale rye te staan nie. Met haar agtergrond in eiendomsontwikkeling het sy waardevolle kennis van munisipale prosesse opgebou en help sy vandag inwoners met ’n wye verskeidenheid rekening- en diensverwante probleme.
My enigste nommer is 072 398 7767.
“Ek is ongelooflik lief daarvoor om na mense se stories te luister en hulle te help om uit moeilike omstandighede te kom,” het sy in ’n vorige onderhoud gesê.
Inwoners wat vermoed dat hulle deur die bedrogspul geteiken is, word aangeraai om geen betalings te maak voordat hulle Taylor se identiteit bevestig het nie en om enige verdagte kommunikasie by die polisie aan te meld.
