Die skopbokskampioen geniet wat sy doen
Sy geniet haar sport en is deel van Laerskool Midvaal se koor, maar vir Nika-né bly skopboks koning.
MIDVAAL – Nika-né Scholtz is net nege jaar oud, maar sy het 13 medaljes en nege trofeë in skopboks verower.
“Ek het nog by die huis en medaljes vir swem ook,” beduie sy na die tafel waarop sy plegtig haar prestasies uitgestal het.

Nika-nè het op vyfjarige ouderdom met skopboks begin. “Hoekom nou weer?” vra sy na haar pa se kant toe. “Vir selfverdediging en dissipline,” antwoord haar pa, waarop hy ‘n parate “ek het dissipline” van sy dogter kry.
In die vier jaar wat sy die sport beoefen het sy al twee maal haar Gauteng-kleure gekry en die provinsie by die nasionale skopbokskampioenskappe verteenwoordig. Verlede jaar is die SA’s in Newcastle gehou.
Daar het sy twee eerste plekke behaal. In April vanjaar het sy weer twee goue medaljes by die SA’s verower.
“Ek oefen vier keer per week en party Saterdae ook. Dis nou as ons nie deelneem nie,” vertel sy. Sy is baie lief vir sport en naas skopboks speel sy ook hokkie en neem aan landloop deel.
Nika-nè is gelukkig as sy bedrywig in die buitelug kan wees. Haar somers swem sy om en in die winter geniet sy dit om op die wipmat by hul huis te spring.
Van alles hou sy die meeste van skopboks. Sy beplan om dit nog vir baie lank te doen. “As ek 15 is, wil ek oorsee aan die Worlds-kompetisie deelneem,” verklaar sy.
As mens so na al die trofeë en medaljes kyk wat in die son blink, dan is haar droom een wat net wag om waar te word
