Neem kennis: Parys-vliegskou gekanselleer
Moenie al die pad verniet Parys toe ry nie. Inwoners word herinner dat die vliegskou gekanselleer is.
PARYS – Dit is inderdaad slegte nuus vir die dorp en ander omliggende dorpe. Die Parys-lugskou, wat vir 19 Julie beplan was, is amptelik gekanselleer.
Die organisasie beklemtoon egter dat die besluit geensins ‘n weerspieëling is van Parys of sy lugvaartgemeenskap nie.
“Die entoesiasme en ondersteuning van die Paryslugvaartgemeenskap is deur die hele beplanningsproses baie waardeer.
“Ons bedank almal wat hul tyd, moeite en toewyding ingesit het en sien daarna uit om Suid-Afrikaanse lugvaart deur toekomstige geleenthede te bly bevorder,” lui die Smoke on…Go! Foundation se verklaring.

Die organisasie het die besluit ná deeglike oorweging geneem as deel van sy langtermynstrategie.
Volgens die stigting gaan toekomstige lugskoue eerder in groter metropolitaanse gebiede aangebied word, waar groter bevolkingsdigtheid sterker korporatiewe ondersteuning en beter infrastruktuur bied.
Dit sal glo bydra om die lugskoue volhoubaar uit te bou en ‘n hoëgehalte-ervaring vir deelnemers, uitstallers, borge en toeskouers te bied.
Die Smoke on… Go! Foundation het verder bevestig dat al sy ander lugskoue regoor die land nie hierdeur geraak sal word nie en gaan voort soos beplan.