Sean Miles rock voort by Innibos
Sean Miles beleef 'n opwindende jaar ten opsigte van sy sangloopbaan. As hy nie by 'n fees optree nie, word hy vir 'n toekenning benoem. Welgedaan!
MIDVAAL – Die Vaaldriehoek se singende skoolhoof, Sean Miles het onlangs die voorreg gehad om by die Innibosfees in Nelspruit op te tree.
Hy sê kunstenaars moet vooraf aansoek doen om by die fees op te tree en hy het vir 11 jaar probeer sonder sukses.
“Verlede jaar het van die keuringskomitee se lede my by Aardklop gesien en hierdie jaar het hulle gesê dis reg. Dit was ‘n great opportunity,” vertel Sean dankbaar.

Hy het drie optredes gehad by die fees wat die kykNET Kuier verhoog, die Cell C Kuier verhoog en die kykNET Kuier Country konsert ingesluit het. S
ean het onlangs nog goeie nuus ontvang. Sy jongste enkelsnit, Onthou jy nog, is benoem vir ‘n Afri-Indie toekenning in die Beste Rock kategorie, terwyl sy Coming Back Stronger vir ‘n SACMAF toekenning genomineer is in die kategorie Modern Country.
Sean is skoolhoof by die Silveroaks Montessori School in Heidelberg waar hy ook biologie en robotics aanbied. Onderwys en musiek is die twee groot passies van sy lewe, maar hy erken musiek wen met ‘n kortkop.

“Ek is gelukkig dat ek ‘n goeie ondersteuningstelsel by die skool het. My direkteur ondersteun ook my musiekloopbaan,” vertel hy dankbaar. Hy beplan om nog drie enkelsnitte die jaar vry te stel en is reeds bespreek vir verskeie optredes en feeste vir die res van die jaar.
“Ek gaan waar die wind my waai en vat my sangloopbaan so happie vir happie,” sê hy. Sean kan met gemak byna enige genre sing en sy enkelsnitte sluit alles in van Rock tot Country, Pop en Afrikaanse musiek.
Hy het optredes van Johannesburg tot Rustenburg en is eersdaags by die Hartklopfees en Wieleskou te sien.