Christo geniet dit om mense rond te ry
Dis lekker as mens 'n werk kan doen wat jy geniet. en Christo Behr geniet sy werk, al kan dit soms gevaarlik raak.
VANDERBIJLPARK – Christo Behr sê hy sal dit nie kan verduur om heeldag in ‘n kantoor te sit nie. Hy is een van die dorp se bekendste taxibestuurders en geniet sy werk terdeë.
Hy doen dit al vir die afgelope 27 jaar. Nie dat hy ooit beplan het om chauffeur vir ander te speel nie. Sy lewenspad het hom op vele kronkelpaaie geneem.
In 1999 het hy na lange jare teruggetrek na Vanderbijlpark. Hy was skaars terug toe hy Annelie Willemse ontmoet het. Sy het op daardie stadium haar eie huurmotormaatskappy gehad en was dringend op soek na nog ‘n taxibestuurder.
Met sy “Ek het gesê ek sal dit doen en na net twee ure se opleiding was ek agter die stuurwiel op pad om my eerste kliënt op te laai,” vertel Christo. Dit was 27 Junie 1999.
Sedertdien het hy ‘n netwerk van kliënte opgebou wat net van sy dienste gebruik maak. “Een van die kinders wat ek elke dag skool toe neem se pa het ek jare terug ook skool toe en terug gevat,” beduie hy trots.
Sy kliënte het hom al gevra om hulle Mosselbaai toe te neem en so was hy ook al by Beitbrug en twee keer in Durban. Hy vertel hoe hy eenkeer ‘n man naby OK opgetel het en hom in Johannesburg gaan aflaai het. Met sy terugkeer het die polisie hom ingewag.
Dis toe wat hy gehoor het die man het ‘n winkel beroof en doodluiters ‘n taxi Johannesburg toe geneem!
Christo was in Laerskool Noordhoek en Hoërskool Transvalia. Na skool wou sy pa gehad het dat hy by die voormalige YSKOR moes inval.
“My hele familie het daar gewerk. Ek wou nie. Ek het nie van die groen overalls en rooi kouse gehou nie,” lag hy. Hy het uiteindelik wel vir ‘n onderhoud gegaan. Gelukkig het die voormalige fietsrykampioen Ertjies Bezuidenhout verbygeloop terwyl hy gewag het.
“Beertjie wat maak jy hier?” het hy gevra. “Ek het net geantwoord ek moet hier wees, maar die groen overalls en rooi kouse gaan my die horries gee.”
Ertjies het gelukkig verstaan en seker gemaak dat Christo ‘n pos kry waar hy nie die klere hoef te dra nie.
Na vyf jaar by YSKOR het Christo se paaie hom van Vereeniging na Middelburg geneem, waar hy onder andere bemarking gedoen het. Vandag is hy nie spyt dat hy teruggetrek het Vanderbijlpark toe nie en beplan om nog lank sy kliënte van punt A na punt B te neem.
