News

Jong pa (35) van Vanderbijlpark wreed vermoor

Marius Stander se geliefdes het self op sy liggaam afgekom in 'n bebosde area tussen Vereeniging en Vanderbijlpark.

VANDERBIJLPARK – ’n Sinnelose moord het die Stander-gesin van SE1 se lewe onherroeplik verander. Die 35-jarige Marius Stander (geliefde man, pa en sy gesin se hoofbroodwinner) is op 25 Junie koelbloedig vermoor nadat hy op pad werk toe gekaap is.

Sy swanger vrou, Lizelle, en hul agtjarige dogtertjie moet nou die lewe sonder hul beskermer aandurf.

“Ons was salig onbewus van die tragedie wat daardie oggend afgespeel het,” vertel Marius se ma, Sandra.

“Die gesin is almal op die Life 360-toepassing (app), maar ons het eers onraad vermoed toe hy nie die middag opgedaag het om sy vrou by die werk en sy dogter by die skool op te laai nie.”

Toe het die soektog begin. Ná talle vrugtelose oproepe het die familie self die foon se spoor via die toepassing begin volg.

Die sein het hulle na Spider Valley, die beboste gebied tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, gelei. Dit was hier waar die familie self op sy liggaam afgekom het.

Die polisie het vinnig toegeslaan en Marius se gekaapte voertuig is die Sondag in Sharpeville opgespoor.

Vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 16 en 20 jaar, is intussen in hegtenis geneem en word van moord aangekla.

Hulle sal op 21 Julie in die Vereeniging-streekhof verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Die Stander-gesin van Vanderbijlpark in gelukkiger dae. Marius, Lizelle en hul 8-jarige dogtertjie.

‘n Nuwe lewe te midde van rou

Terwyl die regsproses sy loop neem, staar Lizelle ’n ondenkbare werklikheid in die gesig.

Sy is tans 19 weke swanger en moet voorberei op die koms van haar tweede kind, terwyl sy rou oor haar man.

“Geen gesin behoort ooit so ’n verpletterende verlies te ervaar nie,” sê Sandra hartseer.

“Marius se afsterwe laat ’n emosionele leemte wat nooit gevul kan word nie, maar dit plaas ook ’n enorme finansiële las op Lizelle en die kinders. Oornag het hulle van twee inkomstebronne na net een gegaan.”

Lizelle is geskeduleer vir ’n keisersnee op 13 Desember.

Benewens die skielike verlies aan inkomste, staar sy nou mediese koste, huur, munisipale rekeninge en alledaagse lewenskoste in die gesig, juis in ’n tyd wanneer sy op haar eie gesondheid en haar kinders se genesing behoort te fokus.

Hoe die gemeenskap kan help

Die familie het ‘n dringende beroep op die gemeenskap gedoen vir enige finansiële ondersteuning om die druk op Lizelle te verlig.

“Enige donasie, ongeag hoe klein, sal gebruik word vir huur, basiese lewenskoste en die mediese uitgawes vir die baba se koms,” vra Sandra.

“As u nie finansieel kan bydra nie, deel asseblief hierdie fondsinsameling so ver as moontlik. Elke bietjie help om ’n verskil te maak.”

“Namens Lizelle en die kinders, baie dankie vir elkeen se medelye, vrygewigheid en ondersteuning in hierdie donker tyd.

“U omgee herinner hulle dat hulle nie alleen is nie, en dat daar selfs nou nog hoop is,” sluit Sandra af.

Fonds: Help Support Lizelle and Children | BackaBuddy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button