‘My hand was net vas by die duim, die res was afgesny’ – Kobus Drotskie
Dit was 'n fratsongeluk wat groot pyn en trauma veroorsaak het. Die herstelproses is lank en die rekeninge hoop op.
11 Julie het as ʼn gewone Saterdag vir Kobus Drodskie (32) en sy gesin begin. Op ʼn stadium was hy en sy seuntjie, Luan (5) doenig om hout met ʼn tafelsaag te sny. Binne sekondes het alles egter verander.
‘n Fratsongeluk verander alles

Wat presies fout gegaan het, kan niemand sê nie. Die saag het Kobus se hand gevang en hy het net ʼn harde slag gehoor.
“Ek het afgekyk en gesien my hand hang net aan die duim. My eerste gedagte was om te keer dat Luan dit sien. Ek het my rug op hom gedraai en gevra dat hy die saag by die muur afsit,” vertel Kobus.
Daarna het hy vir sy vrou, Jacqui geskreeu om hulp. Jacqui sê sy gil het dwarsdeur haar gesny. Sy het dadelik geweet daar is groot fout.
ʼn Gordel red sy lewe

Kobus het die huis ingehardloop. Sy beseerde hand styfvasgedruk in sy linkerhand. Hy sê: “Dit het gevoel asof ek gaan uitpass. Die bloed het uit die hand gepomp. Ek het vir Jacqui gevra om ʼn belt te bring en dit baie styf om my arm vas te trek.”
Die nagmerrie rit tot by die hospitaal
Hulle bly in Warburton, ongeveer 45 minute se ry uit Ermelo. Die ambulans het laat weet dat hulle hul langs die pad moet kry. Vir Kobus en Jacqui was die rit tot waar hul die ambulans, ongeveer 10 km buite Ermelo, gekry het ʼn nagmerrie.
Kobus het geveg om wakker te bly. Vir Jacqui was dit verskriklik om hom in soveel pyn te sien. “Elke sekonde het soos ʼn uur gevoel,” onthou sy.
‘n Lang operasie om die hand te red
Die ambulans het Kobus na Mediclinic Ermelo geneem, waar hy eers in die ongevalle eenheid gestabiliseer is. Dieselfde aand het ʼn span dokters ingespring om sy hand weer te heg in ʼn operasie wat langer as vyf ure geduur het.
“Alles was af. Die spiere, tendons, senuwees. ʼn Stukkie been was weg en ʼn ander stukkie been het in ander been ingeskiet. Die dokters was ongelooflik,” vertel ʼn dankbare Kobus.
Een van die dokters het gesê die gordel wat Jacqui om sy arm vasgetrek het, het sy lewe gered.
Tans is die dokters nie seker hoeveel skade hy gaan oorhou nie. Drie van sy vingers het geen gevoel nie. Hy sal vir nog operasies moet gaan en dit gaan baie lank vat vir alles om weer te groei.
Oorspronklik van Vereeniging
Kobus-hulle het maar onlangs van Vereeniging na Mpumalanga verhuis. Hy en Jacqui het in Vereeniging grootgeword en hul ouers woon nog in die dorp.
“Ek het onlangs by ʼn nuwe werk begin en is nou tydelik sonder ʼn mediese fonds. Die hospitaal en doktersrekening beloop alreeds oor die R100 000.”
Jacqui het ʼn back-a-buddy rekening begin in die hoop om donasies te kry om die gesin te help met die astronomiese bedrag.
Kobus verkeer in baie pyn. Hy slaap sleg, want hy hoor steeds die geluid toe die saag die been tref. “Ek wil ander mense waarsku om hul veiligheid eerste te stel wanneer hul met die elektriese sae werk. Ons raak te gemaklik en ʼn ongeluk gebeur sou gou,” sê Kobus.