Fietsryer van Vaal pak Europa aan
Met nasionale titels reeds agter haar naam, toets Shanique nou haar staal teen van die wêreld se beste jong fietsryers.
SASOLBURG – Wat as ‘n gesinsliefde vir fietsry begin het, het binne enkele jare ontwikkel tot ‘n internasionale sportloopbaan vir Shanique Marx, ‘n leerder aan Hoërskool Transvalia.
Dié jong fietsryer het onlangs SuidAfrika in Nederland en België by verskeie internasionale byeenkomste verteenwoordig nadat sy vir die kompetisies gekies is.

Volgens haar pa, Pieter, het Shanique se liefde vir fietsry begin toe die gesin gereeld saam gaan ry het.
Op 11-jarige ouderdom het sy reeds die Cape Town Cycle Tour saam met haar pa op ‘n tandemfiets voltooi, maar dit was eers in Graad 8 dat sy ernstig begin deelneem en besef het hoe lief sy vir die sport is.

Haar vordering was blitsig. Slegs weke nadat sy met padfietsry begin het, het sy by die Junior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe ‘n goue medalje in die tydtoets en twee bronsmedaljes in die padwedren en kriterium verower.
Vandag oefen Shanique ses dae per week onder leiding van haar afrigter, Massimo Guglielmi, en is sy deel van On Track by NXTG Racing Team.

Om haar droom na te jaag, moes sy ander sportsoorte en talle naweek- en sosiale geleenthede prysgee.
Pieter sê die gesin is ongelooflik trots op haar prestasies en dankbaar vir die ondersteuning wat sy van Hoërskool Transvalia, die Vaal Triangle Cycling Club en die fietsrygemeenskap ontvang het.
Vir Shanique is die internasionale geleenthede nog net die begin. Haar grootste droom is om eendag professioneel in Europa te ry, Suid-Afrika op die hoogste vlak te verteenwoordig en haar teen die wêreld se beste ryers te bewys.



