D.F trots op hul judo kampioene
Veels geluk aan die duo van Laerskool D.F Malherbe wat uitstekend by SA Judo Kampioenskappe gevaar het.
VANDERBIJLPARK – Twee van die Laerskool D.F Malherbe se leerders het tydens die skoolvakansie aan die SA Judo Kampioenskappe in Gqeberha deelgeneem. Judoka’s van regoor Suid-Afrika en onder andere Zimbabwe en Botswana het meegeding.
Johan Pretorius het in die o.34 kg-gewigsklas in die ‘Advanced’-kategorie deelgeneem. Hy het al sy gevegte gewen en die goue medalje verower.
Ruben Zietsman het in o.27 kg-gewigsklas, in die ‘Novice’- en ‘Advanced’-kategorieë deelgeneem. Hy het in beide kategorieë as oorwinnaar uit die stryd getree en is met twee goue medaljes beloon.
Die duo het saam aan die Nage-no-Kata deelgeneem, waar hulle ‘n reeks tegniese gooie moes demonstreer. Met ‘n uitstekende uitvoering, het hulle ook in hierdie afdeling die goue medalje gewen.