Brandweerstasie verlate en vervalle
'n Brandweer wat vinnig en fiks by 'n brand kan uitkom is nie 'n luukse nie, dis 'n noodsaaklikheid. Blykbaar voel ELM nie dieselfde nie.
VANDERBIJLPARK – Die brandweerstasie was eens ʼn baken in die dorp. ʼn Gebou om op trots te wees en ʼn brandweerspan wat diens gelewer het.

Vandag staan die gebou verlate. Daar is mense by die sekuriteitshokkie. Die hek staan oop. ʼn Ou brandweerwa staan in die agterste parkeerarea en wat lyk soos ʼn nuwer model ook in die agtergrond. Maar die fikse, parate brandweerpersoneel ontbreek.

Die voordeur is met ʼn dik ketting en slot gesluit. Die kant van die gebou in Frikkie Meyer-boulevard lyk naar.
Die mure lyk asof dit enige oomblik inmekaar gaan tuimel. Binne die gebou is dit net rommel wat aan die een kant rondlê. Aan die ander kant is ʼn motor geparkeer.

Vensters is gebreek. Geute is stukkend. Die toestand van die gebou laat ’n mens wonder wat gebeur as daar ’n brand in Vanderbijlpark uitbreek?
Moet brandweerwaens al die pad van Vereeniging of Meyerton ry?
Gaan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit iets aan die verval doen?
Hoeveel sal dit kos?
Hierdie en ander vrae is per e-pos aan die munisipaliteit se kommunikasiedienste gestuur, maar geen reaksie of antwoorde is ontvang nie.
