News

Dit is weer planttyd vir Goliat van Gat 2027

Organiseerders doen 'n beroep op pampoenkwekers om nou gereed te maak vir die 2027-seisoen.

PRETORIA – Na ‘n groot en suksesvolle Goliat van Gat-pampoenfees in Maart vanjaar, is dit weer tyd om voor te berei vir die volgende seisoen van Goliat van Gat 2027.

Planttyd vir die Goliat van Gat-pampoengroeikompetisie en -fees, wat op 13 Maart 2027 by Lavender Kontrei Mark in Pretoria plaasvind, is om die draai.

Volgens Henri Combrink, organiseerder van die Goliat van Gat-pampoenfees, is pitte, raad en bystand vir die nuwe seisoen reeds beskikbaar. “Raak deel van ons pampoengroeigemeenskap en geniet die pret, uitdagings en opwinding van hierdie unieke kompetisie,” moedig hy belangstellendes aan.

Die Goliat van Gat-pampoenfees, wat jaarliks deur die Cullinan Boere-unie (TLU SA) aangebied word, lok deelnemers van reg oor Suid-Afrika wat meeding om die titel van die swaarste pampoen. Benewens die hoofkompetisie is daar ook afdelings vir onder meer die swaarste skorsie, murgpampoen, waatlemoen, tamatie en ander groentesoorte.

Vanjaar se fees het weer talle deelnemers en besoekers gelok. Soos in vorige jare is die pampoene wat tydens die kompetisie ingeweeg is ná afloop van die fees aan welsynsorganisasies geskenk vir verspreiding onder behoeftige gemeenskappe.

Een van vanjaar se groot wenners was Meyerton se “Pampoenkoning”, Wykus Lamprecht, wat later sy indrukwekkende wenpampoene en ander groente laat opsny en aan liefdadigheidsorganisasies geskenk het om die fees se gemeenskapsdoel verder uit te dra.

Volgens Combrink sal daar ook in 2027 aantreklike prysgeld vir die tien swaarste pampoene wees, terwyl deelnemers weer hul mooiste, lelikste en oorspronklikste pampoene sal kan inskryf.

Belangstellendes wat meer inligting verlang of aan die 2027-kompetisie wil deelneem, kan Combrink by 082 552 9428 of per e-pos by culliboer@gmail.com kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button