Leroi, jy sal onthou word
Dit voel nie werklik nie. Ek wens iemand wil my laat weet dit is nie so nie. Aan sy vrou, seuntjie, familie en vriende, ons dink aan julle.
SASOLBURG – Leroi Leroux (37) is oorlede. Vermoedelik aan ʼn hartaanval. Hy het nie vanoggend wakker geword nie.
Leroi was ʼn positiewe rolmodel vir oud en jonk. Sy been is in Mei 2022 geamputeer, maar hy het in geloof en met ʼn ongelooflike deursettingsvermoë voortgegaan.

Einde 2022 het hy besluit om weer aan diskus en gewigstoot deel te neem. In Maart 2023 het hy dan ook aan sy eerste South Africa Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) kampioenskappe deelgeneem, waar hy twee tweede plekke behaal het.
Onlangs het hy ʼn agste plek behaal by die World Para Athletics Grand Prix Tunis 2026. Sy droom was om eendag aan die Paralimpiese Spele deel te neem.
Leroi het ʼn glimlag vir almal gereed gehad. Sy oë het saamgepraat wanneer hy gesels het. Vir dié joernalis het hy spesiaal ʼn blikkie Cream Soda gereed gehad wanneer ek ʼn onderhoud met hom gaan doen het.
Op sy vrou, Lorandi-Mari, was hy baie trots en sy liefde vir sy seuntjie en vir haar was onbeskryfbaar groot.
Leroi was ʼn bekend by sy alma mater, Hoërskool Transvalia, jare nadat hy daar gematrikuleer het. Wanneer hy in die middae sy diskus op die atletiekveld geoefen het, het die leerlinge altyd gestop en eers kom gesels.
Hy het elkeen met hope geduld en deernis hanteer. Op ʼn stadium was hy ook skrum-afrigter by Laerskool Kollegepark waar hy ʼn groot held vir daardie jaar se o.10-rugbyspan was.
Leroi het ʼn groot hart gehad vir kinders en diere. Sy beker het oorgeloop van dankbaarheid en vreugde toe sy seuntjie in 2024 gebore is.
En nou… Nou is Leroi skielik nie meer met ons nie. Sy afsterwe kom as ʼn groot skok. Hy laat ʼn leemte wat nie gevul sal kan word nie. Vir my was hy ʼn vriend en ek sal hom altyd onthou.
