Ruiters skitter by SAWMGA-kwalifiseerder
Die stof het gestaan en daar was rede vir groot glimlagte tydens die SAWMGA-kwalifiseerder op eie bodem.
SASOLBURG – Dit was weer die afgelope naweek tyd vir ruiters om hul perdryvernuf op die proef te stel.
Riverside Equestrian Centre en Rivers Wranglers Club het die SAWMGA-kwalifiseerder saam aangebied.
Dit was ‘n groot sukses en behalwe vir die talentvolle ruiters, het die honderde glimlagte getuig hoe lief hulle vir hierdie perdesport is.
Santie Walters van Riverside Equestrian Centre verdien ekstra erkenning vir die ongelooflike toewyding om die hele kwalifiseerder te reël, en self tussen al die organisering steeds tyd afgestaan het om haar ruiters te ondersteun en aan te moedig om hul beste te lewer.
Haar passie vir perde en vir elke ruiter is werklik inspirerend.
“By Riverside Equestrian Centre leer kinders nie net hoe om perd te ry nie, hulle leer verantwoordelikheid, selfvertroue, deursettingsvermoë en respek.
“Hier word bang ruitertjies dapper, onseker kinders ontdek hul selfvertroue, en elke klein oorwinning word saam gevier,” sê Santie.
Mense wat graag deel van die perdry-familie wil word kan Santie by 082 602 7451 kontak.
Foto’s: Elsje Vermeulen. Nog foto’s in Vrydag se Vaalweekblad.




