News

Ouma Sannie van Sasolburg vier 98ste verjaarsdag

Om jou 98ste verjaarsdag te kan vier is inderdaad 'n unieke prestasie. Baie geluk Ouma Sannie Bezuidenhout.

SASOLBURG – Volgens wêreldwye en plaaslike demografiese data haal minder as 1% van die mensdom ooit die ouderdom van 98 jaar.

Ouma Sannie Bezuidenhout is deel van dié 1%. Sy het op 25 Julie verjaar en staan stewig op die drumpel van ‘n eeu!

Dink net, sy is in 1928 voor die Groot Depressie gebore en was ‘n kind gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Wat ‘n ondenkbare lewensreis en ervaringe het sy nie beleef nie. Dit sluit alles in van perdekarre tot die eerste kommersiële vliegtuie tot die huidige digitale en kunsmatige intelligensie-era.

98 jaar is nie net ‘n getal nie; dit is 35 795 dae van lewe, wat alles van goeie tye tot hartseer tye, uitdagings en oorwinnings insluit.

“Elke verjaarsdag op hierdie ouderdom is ‘n kosbare geskenk, nie net vir haar nie, maar vir die hele familie,” sê haar kleinseun Ben Marais.

Hy werk tans in Amerika en kon ongelukkig nie haar verjaarsdag saam met haar vier nie.

“Ek wou so graag by haar wees, maar as ek in November terug is, gaan ons dit weer vier.”

Gelukkig was ander familielede daar om Ouma Sannie te bederf op haar spesiale dag. Hulle het haar met ‘n uitstappie na ‘n koffiewinkel geneem waar daar heerlik saamgekuier, geëet en gedrink is.

Ouma Sannie deel tans ‘n woonsteleenheid met een van haar voormalige skoonseuns.

Sy is dus reeds haar hele lewe ‘n Vrystater in murg en been.

Kyk net hoe pragtig. Ouma Sannie het op 25 Julie haar 98ste verjaarsdag gevier.

Ouma Sannie het op ‘n plaas in die Frankfort-distrik grootgeword. Dit was in dié distrik dat sy later jare haar lewensmaat ontmoet het.

Sy en Ben Bezuidenhout van ‘n buurplaas, is in die eg verbind en ses kinders is uit die huwelik gebore.
Die gesin het later jare dorp toe getrek.

Ben het vir die Vrystaat Koöperasie gewerk tot met sy aftrede. Hy is in 2002 oorlede.

Ouma Sannie het tot in 2009 alleen in die huis aangebly, maar later na ‘n woonstel afgeskaal waar sy tot die ouderdom van 94 gebly het.

Sy het vier jaar gelede op aandrang van haar kinders na Sasolburg verhuis waar sy tans woon.

Sy is steeds helder van verstand, en spandeer haar dae deur te lees en geniet haar volwasse inkleurboeke.

Van Ouma Sannie se ses kinders, lewe drie nog.

Sy het 13 kleinkinders, waarvan twee oorlede is, 21 agterkleinkinders en vyf agteragter kleinkinders.

Ouma Sannie en kleinseun Ben Marais.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button