News

Veelvlakkige plan nodig om besoedeling van Kliprivier hok te slaan

Die Adjunkminister van Water en Sanitasie waarsku dat die ernstige besoedeling van die Kliprivier nie net 'n gesondheidsgevaar inhou nie, maar ook die breër Vaalrivierstelsel bedreig.

Die Adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, sê dringende ingryping is nodig om die Kliprivier van besoedeling te red.

Die rivier, een van die Vaalrivier se belangrikste sytakke, voer groot hoeveelhede besoedeling stroomaf en het gevolge vir gemeenskappe regdeur die Vaalopvanggebied, insluitend die Vaaldriehoek.

Bloom sê ‘n veelvlakkige benadering is noodsaaklik om die ernstig besoedelde rivier skoon te maak, aangesien dit ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir gemeenskappe langs die rivier inhou.

Hy het dié uitlatings gemaak ná ‘n oorsigbesoek aan die Kliprivier op 27 Julie saam met senior amptenare as deel van die departement se Clear Rivers Campaign. Die besoek het gevolg op ‘n uitnodiging van dr. Mark Potterton, skoolhoof van Immaculata High School in Diepkloof in Soweto, wat kommer uitgespreek het oor die uitwerking van die besoedelde rivier op leerders wat daagliks daaroor moet beweeg.

Die Adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, tydens ‘n besoek aan die Kliprivier in Soweto. Foto: Verskaf

Volgens Bloom het amptenare bevestig dat die rivier gevaarlike besoedelstowwe bevat, insluitend stowwe wat met kanker verbind word. Die water is volgens hom nie veilig om te drink of selfs aan te raak nie.

Hy het verder vertel dat ‘n skoolmeisie tydens die besoek gesê het inwoners kook soms die rivierwater vir huishoudelike gebruik wanneer daar wateronderbrekings in die gebied is.

Die Kliprivier, een van die Vaalrivier se belangrikste sytakke, voer groot hoeveelhede besoedeling stroomaf.

Bloom het ook sy skok uitgespreek oor die groot hoeveelhede rommel wat in die rivier gestort word of tydens reën daarin beland.

Hy sê oorlopende rioolmangate is een van die grootste oorsake van die besoedeling. Dit word toegeskryf aan verstoppings, onwettige rioolaansluitings en rioolinfrastruktuur wat nie meer die toenemende vraag kan hanteer nie. Volgens hom word rioolpype boonop deur diewe beskadig wat sand deursoek op soek na waardevolle voorwerpe.

Besoedeling van die Kliprivier bly ‘n ernstige omgewings- en gesondheidskwessie. Foto: Verskaf

Nog ‘n groot bron van besoedeling is die swak gehalte behandelde rioolwater wat uit Johannesburg se Olifantsvlei-, Bushkoppies- en Goudkoppies-afvalwatersuiweringswerke in die Kliprivieropvanggebied vrygestel word. Al drie aanlegte is volgens die 2023 Green Drop Assessment Report as hoërisiko-aanlegte geklassifiseer weens die swak gehalte van hul uitvloeisel.

Onwettige storting, onwettige rioolaansluitings en vandalisme moet hok geslaan word.

Bloom sê die Departement van Water en Sanitasie het reeds strafregtelike klagte oor rou rioolbesoedeling teen die Bushkoppies- en Goudkoppies-aanlegte ingedien, terwyl ‘n private klaer soortgelyke stappe teen die Olifantsvlei-aanleg gedoen het. Die sake dien tans voor die Nasionale Vervolgingsgesag.

Hy beskryf dit as ‘n skande dat ‘n staatsdepartement strafregtelike stappe moes doen nadat alle ander pogings om die probleem op te los misluk het.

Die Kliprivier se besoedelingsprobleem het verreikende gevolge vir die breër Vaalrivierstelsel en omliggende gemeenskappe Argieffoto: Christiaan Cloete

Volgens Bloom sal die herstel van die Kliprivieropvanggebied gelyktydige optrede op verskeie terreine verg. Onwettige storting, onwettige rioolaansluitings en vandalisme moet hok geslaan word, afvalwatersuiweringswerke moet opgeknap word, rioollyne beter onderhou word en nuwe infrastruktuur sal ontwikkel moet word om die groeiende bevolking te bedien.

Dit is skandelik dat ‘n staatsdepartement strafregtelike stappe moes doen nadat alle ander pogings misluk het.

Hy sê amptenare het hom ook ingelig oor planne om ‘n ekologiese park langs die Kliprivier tot by die Orlandodam te ontwikkel.

“Dit is ‘n inspirerende visie wat die gebied kan ophef, ontspanningsgeleenthede kan skep en werksgeleenthede deur toerisme kan bevorder,” het Bloom gesê.

Hy het onderneem om alles in sy vermoë te doen om samewerking en beleggings te bevorder om die projek ‘n werklikheid te maak.

Die Adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button