Laaste kans om as kieser te registreer dié naweek
Moenie dié belangrike sperdatum misloop nie. Die komende naweek is jou laaste kans om as kieser te registreer of jou besonderhede op datum te bring.
Suid-Afrikaners wat nog nie as kiesers geregistreer is nie, kry die komende naweek hul laaste geleentheid om dit voor die volgende verkiesing te doen.
Die Verkiesingskommissie (OVK) sê meer as 23 000 registrasiepunte regoor die land sal oop wees waar kiesers kan registreer, hul registrasiebesonderhede kan nagaan of indien nodig opdateer.
Mense wat verkies om die proses aanlyn te voltooi, kan dit ook doen. Volgens die OVK laat al die groot selfoonnetwerke gebruikers toe om sonder lugtyd of data vir die diens te betaal wanneer hulle aanlyn registreer.
Die kommissie doen ‘n beroep op alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners wat nog nie geregistreer is nie, om van die geleentheid gebruik te maak.
Tydens die vorige kiesersregistrasienaweek het sowat 2,9 miljoen mense hul registrasie voltooi of bygewerk.
