Meyerton Knights verslaan VUT
Die Knights kom Saterdag, 1 Augustus in hul laaste ligawedstryd van die seisoen, op hul tuisveld teen die Sasolburg Cobras te staan.
VANDERBIJLPARK – Kookwater-rugby is Saterdag opgedis toe die Meyerton Knights en VUT se eerstespanne mekaar op laasgenoemde se tuisveld aangedurf het.
Die Knights het egter uit die staanspoor gewys dat hulle nie verniet al die pad Vanderbijlpark toe gereis het nie.
Die Knights was eenvoudig te sterk vir die begeesterde span van VUT. Met halftyd het die Knights reeds ‘n voorsprong van 35-7 geniet en in die tweede helfte is VUT se verdediging verder tot op die uiterste beproef.
Die Knights het ‘n wegholoorwinning van 61-12 aangeteken.
“Die manne se samespel en speelpatroon kom nou goed bymekaar. Na elke wedstryd begin die ouens net meer vir mekaar en die klub speel. Ek voel ons kanse om die finaal te haal is baie goed.
“Ons moet net beseringvry die semi-finaal aanpak,” sê Jaco Archer, voorsitter van Meyerton Knights Rugbyklub.
Die Knights kom Saterdag, 1 Augustus in hul laaste ligawedstryd van die seisoen, op hul tuisveld teen die Sasolburg Cobras te staan.
Dit beloof ‘n aksie-belaaide wedstryd te wees. Die eerstespan-wedstryd skop om 16:00 af.
FOTO’S: Elsje Vermeulen – nog foto’s in Vrydag se Vaalweekblad.






