Verdagte vasgetrek ná vermoedelik gesteelde vragmotor onderskep is
'n Gesamentlike operasie het gelei tot beslaglegging van 'n vermoedelik gesteelde vragmotor en die inhegtenisneming van 'n verdagte.
MIDVAAL – Samewerking tussen verskeie veiligheids- en wetstoepassingsinstansies het daartoe gelei dat ‘n vermoedelik gesteelde vragmotor teruggevind en ‘n verdagte naby Meyerton in hegtenis geneem is.
Volgens die Rensburg Forum in Heidelberg is ‘n verdagte vragmotor in Heidelberg opgemerk terwyl dit in Meyerton se onderweg was.
Lede van verskeie veiligheidsorganisasies is gemobiliseer om die voertuig op te spoor.
Die vragmotor se bewegings is gemonitor en spanne het hulself op strategiese plekke geposisioneer om die voertuig te onderskep.
Die bestuurder het na bewering probeer vlug toe beamptes die voertuig wou voorkeer.
Die vragmotor is daarna agternagesit en uiteindelik veilig naby die Goeiehoek-silo’s buite Vereeniging tot stilstand gebring.

Volgens voorlopige inligting is die vragmotor as gesteel aangemeld, terwyl die sleepwa nie as gesteel aangemeld is nie.
Die polisie het op die vragmotor en sleepwa beslag gelê en dit word vir verdere ondersoek by die polisie gehou.
Die Rensburg Forum se taktiese reaksie-eenheid, Afri Guard, Lesedi-verkeerspolisie, Burgerlike Beskerming Nigel, Flying Squad Vaal Rand, die Midvaal GPF, Midvaal-vredesbeamptes, Balfour-vredesbeamptes en die SAPD het almal aan die operasie deelgeneem.
Die Rensburg Forum het sy dank uitgespreek teenoor lede van die publiek wat inligting aan veiligheidsrolspelers verskaf het.
Volgens die organisasie bly samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassers ‘n belangrike rolspeler in die bekamping van misdaad.
