Rubriek: Rolmodelbank moet op voetsoolvlak aangevul word
Onthou asseblief ons werk met kinders.

Om oud te word is soos bankrotskap, dit begin eers stadig en dan ewe skielik slaan dit toe soos ‘n dief in die nag.
Maar vandag verwys ek nie na gryshare en bankstate nie, maar eerder na die bankrotskap van goeie rolmodelle.
Die volgende vergelyking mag miskien kras wees, maar hopelik dring dit deur tot diegene wat dit die nodigste het.
Die wêreld beskerm kinders teen die Gert van Rooyens van die wêreld wat kinderlewens verwoes, maar daar is ‘n kinderroofdier wat kinders se onskuld op ‘n ander wyse steel. Dis daardie rugbymammas en -pappas wat heeltemal oorboord gaan.
Dis nie diegene wat te betrokke is of in die hitte van die oomblik iets van die kantlyn af skreeu nie. Nee. Dis daardie boelie wat kinders se selfbeeld afbreek en hulle voor hul portuurgroep verneder.
Dis meestal pappas wat as afrigters optree. Hulle plaas onnodige druk op kinders en is bitter swak rolmodelle langs die veld.
Net soos kinders moet groentjie skeidsregters hulle tande iewers sny. Waar dink mense moet dit plaasvind? Op klubvlak? Onthou net sonder skeidsregters sal ons geliefde spel met die ovaalbal doodloop.
Skeidsregterskap is egter ‘n kwessie op sy eie.
Ek moes die afgelope naweek my oë soos oupa uil knip-knip en my ore spits en my pinkie wikkel om te verseker dat ek nie drogbeelde sien en stemme hoor nie. Ja, wragtig ‘n afrigter staan ewe kordaat en hits sy kaalvoetkannetjies voor die wedstryd aan om hul teenstander te beseer en te intimideer.
Buiten dit gaan die vreeslike oordrewe opwarmingsoefeninge voor die wedstryde – wat gelykstaande is aan ‘n mini-wedstryd op sy eie – my verstand te bowe.
Net omdat jy ‘n wêreldrugby vlak een of twee afrigtingskursus afgelê het, beteken dit nie dat spelers wat nog nat agter die ore is hierdie vreeslike hardlooplyne en verdedigingspatrone kan bemeester nie.
Ek dink die Pumas se afrigter, Jimmy Stonehouse, het die beste rugbyfilisofie: “Coach what is in front of you.” Vanaand wanneer daardie afrigter sit en sport kyk het hy lankal vergeet wat hy kwytgeraak het, terwyl daardie harde woorde en vernedering steeds in daardie kinderkoppe weergalm en oor en oor herleef word.
Daar is wel ook baie ouers wat ouerskap, sport en ondersteuning baie mooi bymekaar bring. Soms is die beste ondersteuning om jou van regstreekse betrokkenheid te verwyder. Praat na die game, wanneer almal rustig is, daaroor.
Ons almal soek die beste vir ons kinders, maar moenie hulle vreugde en liefde vir die spel en die lewe soos ‘n roofdier verslind nie.
Daar is miskien ‘n balk in my oog, maar daarom bepaal ek myself by my eie kinders. Dr. Rassie Erasmus en sy Springbokke is puik rolmodelle en die kinders van ons reënboognasie het vir die eerste keer stringe rolmodelle wat ons hele bevolking verteenwoordig.
Die gehalte van rugby wat tans op voetsoolvlak gespeel word is skrikwekkend goed. Hierdie kannetjies waag dinge wat ons GenX-ers nooit eers van kon droom nie.
Kom ons bou met sport nie net ons land nie, maar ons kinders ook. Kom ons red ons rolmodelbank uit bankrotskap. Soos Snotkop sing: “Sit ‘n tjoppie op die vuur en raak vir my rustig!”
