News

Oprah se skool in Henley sluit sy deure

Fokus verskuif nou na 'n uitgebreide nasionale beursprogram.

HENLEY-ON-KLIP – Een van die Midvaal se bekendste opvoedkundige instellings, die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls (OWLAG), sal aan die einde van die 2027-akademiese jaar sy deure sluit ná twee dekades waartydens dit die lewens van akademies begaafde meisies uit minderbevoorregte gemeenskappe verander het.

Die skool in Henley-on-Klip is in 2007 deur die Amerikaanse mediapersoonlikheid en filantroop Oprah Winfrey in samewerking met die voormalige president Nelson Mandela gestig.

Meer as 870 leerders het sedertdien aan die akademie gegradueer, met baie wat hul merk gemaak het as dokters, ingenieurs, prokureurs, wetenskaplikes, entrepreneurs, opvoeders en maatskaplike aktiviste.

Volgens ‘n amptelike verklaring sal die kampus, soos oorspronklik met die stigting van die skool ooreengekom is, aan die Gautengse Departement van Onderwys oorgedra word.

Die sluiting sal geen nadelige uitwerking op huidige leerlinge hê nie. Die akademie sal sy laaste akademiese jaar in 2027 voltooi, terwyl leerders wat nog nie matriek voltooi het nie, se skoolopleiding ten volle by ander vooraanstaande Suid-Afrikaanse skole befonds sal word totdat hulle matrikuleer.

Winfrey se verbintenis tot meisie-eindig egter nie met die sluiting van die akademie nie. Die fokus verskuif na ‘n uitgebreide nasionale beursprogram wat daarop gemik is om nog meer talentvolle jong vroue regoor Suid-Afrika toegang tot gehalte-onderwys te gee.

Sedert die akademie sy deure geopen het, het dit ‘n uitsonderlike akademiese rekord opgebou. ‘n Onafhanklike studie het bevind dat 99% van die ondervraagde oudleerders hul studies aan tersiêre instellings voortgesit het.

Van die bekendste oudleerders is dr. Lindiwe Tsope, die eerste oudleerder wat ‘n doktorsgraad verwerf het, en dr. Bongeka Zuma, die topmatrikulant van die eerste matriekgroep, wat ‘n meestersgraad aan die Universiteit van Oxford voltooi het voordat sy haar mediese graad aan Stanford University behaal het.

Die nuwe beursprogram sal op die akademie se nalatenskap voortbou deur talentvolle jong vroue by toonaangewende skole regoor Suid-Afrika te ondersteun, sodat Oprah Winfrey se belegging in meisie-onderwys vir toekomstige geslagte kan voortleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button