VF Plus-raadslid weer in hof
'n VF Plus-raadslid het weer in die hof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog oor haar akademiese kwalifikasies.
VEREENIGING – Gerda Senekal, ‘n VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het op 29 Julie vir ‘n tweede keer vlugtig in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog wat verband hou met haar akademiese kwalifikasies.
Die saak is tot 27 Augustus uitgestel.
Senekal het nog nie op die aanklag gepleit nie en die bewerings teen haar is nog nie in die hof getoets nie.
Die aanklag hou verband met bewerings dat Senekal valslik sou voorgehou het dat sy grade in politieke wetenskap en openbare administrasie verwerf het.
Volgens ‘n voormalige VF Plus-lid is die saak ook eers intern binne die VF Plus aangeroer voordat dit in die strafregstelsel beland het.
Terwyl Senekal Woensdag in die Vereeniging-landdroshof moes verskyn, het inwoners van SW1 in Vanderbijlpark intussen met kragonderbrekings geworstel.
Senekal, wat gereeld by diensleweringskwessies in verskeie wyke in Emfuleni betrokke is, moes haar aandag tydelik van dié aangeleentheid af wegneem om die verpligte hofverskyning by te woon.
Vaalweekblad het ná die hofverrigtinge navraag by Senekal se regsverteenwoordiger, adv. Wynanda Coetzee, gedoen oor die rede vir die uitstel en Senekal om kommentaar genader. Teen die tyd dat hierdie berig gepubliseer is, is geen reaksie ontvang nie.
By die hof het Senekal se eggenoot, wat hom as Jacques voorgestel het, Vaalweekblad versoek om “die regte feite” te publiseer.
‘n Vrou wat saam met Senekal was, het die gesprek kortgeknip en gesê: “Moenie eers met hom praat nie. Hulle skommel dit in elk geval hoe hulle wil.”
Die strafregtelike klagte is in 2023 aanhangig gemaak.
Senekal het op 15 Julie vanjaar vir die eerste keer in verband met die saak in die hof verskyn.
Volgens die VF Plus spruit die strafsaak uit ‘n interne partyaangeleentheid. Kobus Hoffman, ‘n voormalige VF Plus-lid, het vroeër aan Vaalweekblad bevestig dat hy die strafregtelike klagte in 2023 by die polisie ingedien het nadat die aangeleentheid ook binne die party aangeroer is.
Die saak duur voort.
