News

Pensioenaris verloor byna alles in huisbrand

'n Pensioenaris van Vereeniging probeer sy lewe weer opbou nadat 'n verwoestende huisbrand sy woning en byna al sy besittings vernietig het. Intussen wag hy steeds op antwoorde oor wat die aand van die brand gebeur het.

VEREENIGING – ‘n Verwoestende huisbrand het ‘n 71-jarige pensioenaris met net die klere aan sy lyf gelaat nadat ‘n leeftyd se besittings in puin gelê is.

Vir Gerrie Engelbrecht (71) het die brand nie net sy woning op ‘n kleinhoewe in Percy Sherwillstraat verwoes nie, maar ook feitlik al sy persoonlike besittings.

Gerrie Engelbrecht (71) staan in sy uitgebrande woning op sy kleinhoewe in Percy Sherwillstraat waar hy sê hy feitlik alles in ‘n verwoestende brand verloor het. Foto: Christiaan Cloete

Die afgetrede voormalige korrektiewe beampte, wat al sowat 40 jaar op die eiendom woon, bly sedertdien in ‘n woonstel op dieselfde erf terwyl hy wag dat die ondersoek afgehandel word.

Volgens Engelbrecht het hy die betrokke Sondagaand by vriende in Meyerton oorgeslaap toe hy vroeg die Maandagoggend ‘n oproep ontvang het dat sy huis aan die brand is. Met sy aankoms was die woning reeds erg beskadig.

“Ek het alles verloor. Ek het net die klere wat ek aan my lyf het,” vertel hy.

Gerrie Engelbrecht (71) loer in een van die vertrekke van sy uitgebrande woning op sy kleinhoewe in Percy Sherwillstraat. Hy sê hy het feitlik alles in die verwoestende brand verloor en wag steeds op antwoorde oor wat die brand veroorsaak het. Foto: Christiaan Cloete

Hy sê meubels, beddegoed, huishoudelike ware, gereedskap en kosvoorrade wat oor jare opgebou is, is in die brand vernietig.

Engelbrecht beweer die woning is eers geplunder voordat dit aan die brand gesteek is.

Volgens hom ontbreek onder meer drie slypmasjiene (grinders), ‘n boormasjien en ander waardevolle toerusting. Hy beweer ook dat daar tekens is dat veiligheidshekke oopgebreek is.

Gerrie Engelbrecht (71) wys na die veiligheidshek wat volgens hom tydens die inbraak oopgebreek is voordat sy woning deur ‘n verwoestende brand verwoes is. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Engelbrecht het hy die nag ná die brand bewegings by die uitgebrande woning opgemerk en ondersoek ingestel.

Hy beweer hy het drie persone op sy eiendom betrap wat besig was om koperkabels uit die huis te verwyder. Hy sê hy het hulle voorgekeer en die polisie ontbied, waarna verklarings afgelê is.

Geregtigheid moet geskied.

Hy is egter teleurgesteld oor wat hy as ‘n stadige ondersoek beskryf en sê hy wag steeds op antwoorde oor wat presies met sy woning gebeur het.

Toe hy gevra is wat hy hoop die koerantberig sal vermag, was sy antwoord eenvoudig: “Geregtigheid moet geskied.”

Gerrie se kosvoorrade wat oor jare opgebou is, is in die brand vernietig. Foto: Christiaan Cloete

Benewens die verlies van sy woning sê Engelbrecht hy leef ook in vrees nadat hy dreigemente ontvang het.

Intussen wag hy op die uitslag van die ondersoek sowel as die nodige verslae wat sy versekering benodig.

Vaalweekblad kon teen druktyd nie kommentaar van die SAPD bekom oor die status van die ondersoek, of enige verdagtes in hegtenis geneem is en of die brand as moontlike brandstigting ondersoek word nie.

Volgens Engelbrecht is die brandweer steeds besig met ‘n forensiese ondersoek om die oorsaak van die brand te bepaal.

Gerrie Engelbrecht (71) in sy uitgebrande woning waar hy sê hy feitlik alles wat hy oor ‘n leeftyd opgebou het, verloor het. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button