Voormalige Vaal SAPD-bevelvoerder nou Provinsiale Kommissaris
Die waarnemende Nasionale Kommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, het gesê dat luitenant-generaal Jan Petrus Scheepers se aanstelling 'n belangrike stap vorentoe is om doeltreffende polisiëring in die provinsie te versterk.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die voormalige toppolisieman van die Vaaldriehoek, luitenant-generaal Jan Petrus Scheepers, amptelik met ingang van 1 Augustus as die nuwe Provinsiale Kommissaris van Limpopo aangewys.
Hierdie welverdiende aanstelling volg op ‘n suksesvolle diensperiode waarin hy reeds as waarnemende Provinsiale Kommissaris opgetree het.
Luitenant-generaal Scheepers aanvaar die hoogste polisieamp in Limpopo ná ’n luisterryke loopbaan van 38 jaar in die polisiediens.
Scheepers se loopbaan
Oor die dekades heen het hy diens gedoen in van die land se mees veeleisende polisie-omgewings, insluitend Barrage, De Deur, Ennerdale, Sedibeng, Sebokeng, Vanderbijlpark, Orange Farm en Lenasia-Suid.
Hy het ook waardevolle ondervinding in die Hondepatrollie- en K9-eenheid, Misdaadvoorkoming en Sigbare Polisiëring opgedoen, waar hy deurslaggewende operasionele ervaring verwerf het terwyl hy polisie-inisiatiewe in uitdagende gemeenskappe gelei het.
Sy loopbaan in openbare diens het oorspronklik in die Suid-Afrikaanse Weermag begin. In 1988 het hy by die SAPD aangesluit nadat hy sy polisie-opleiding aan die Tshwane Polisie-akademie voltooi het.
Vir 16 jaar het hy met onderskeiding as stasiebevelvoerder by verskeie polisiestasies gedien. Danksy sy onwrikbare toegewydheid en leierskap is hy in 2013 tot brigadier bevorder en as stasiebevelvoerder van Sebokeng aangestel.
In 2016 volg ’n bevordering na majoor-generaal as distrikskommissaris van die Capricorn-distrik in Limpopo, waarna hy in 2017 die amp van adjunk-provinsiale kommissaris aanvaar het.
Scheepers beskik oor ’n Nasionale Diploma in Polisie-administrasie en het gespesialiseerde opleiding deur die Amerikaanse Federal Bureau of Investigation (FBI) as gyselaars- en selfmoordonderhandelaar ontvang, wat sy krisisbestuur- en operasionele vaardighede verder versterk.
Limpopo se premier, dr. Phophi Ramathuba, het die aanstelling verwelkom en die amp as Provinsiale Kommissaris beskryf as ’n uitdagende taak en “’n harnas in die stryd teen misdaad.”
Met die aanvaarding van sy nuwe rol het luitenant-generaal Scheepers gesê dit is vir hom ’n groot eer en voorreg.

Scheepers se boodskap
“Ek onderneem om nou saam te werk met die regering, munisipaliteite, tradisionele leiers, gemeenskapspolisieforums, wetstoepassingsvennote, die burgerlike samelewing en die inwoners van Limpopo om vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te herstel en veiliger gemeenskappe te skep,” het hy beloof.
In ’n kragtige boodskap aan SAPD-lede het hy benadruk: “Onder my leierskap sal daar geen plek wees vir korrupsie, swak dienslewering, wanoptrede of enige gedrag wat die integriteit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondermyn nie.”
