Klein Nolan amper blind in een ogie
Daar wag moontlik nog 'n breinoperasie, maar vir nou is Nolan beïndruk met nuwe blou bril.
VANDERBIJLPARK – Nolan Marais (4) gaan volgende jaar graad RR toe. Dis moeilik om te glo dat die dokters wou hê sy ma, Jessica, moes die swangerskap termineer.
Jessica was vyf maande swanger toe ‘n sonar gewys het dat hy ‘n gesplete bolip het en dat hy moontlik breinprobleme sal hê. Die bo-lippie is na sy geboorte reggemaak, maar ‘n paar maande later is ‘n sist op die regterkant van sy serebellum waargeneem.

Vir ‘n tyd lank het dit goed gegaan, maar op 19 maande kon hy steeds nie alleen staan nie en het hy gesukkel om te loop. Na intensiewe toetse is daar gevind dat vog in sy brein versamel en dat die oorspronklike sist gegroei het en verdere drukking veroorsaak.
Hy het toe ‘n breinoperasie ondergaan waar ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep is. Nolan moet hierdie jaar weer die neurochirurg besoek om te bepaal of die sist verwyder moet word.

Jessica het agtergekom dat hy maklik van balans af raak en goed baie naby aan sy gesiggie hou. Sy het eers gedink dis oor die sist, maar ‘n besoek aan die oogarts het bevestig dat hy byna blind is in sy regteroog.
Hy moet nou ‘n bril dra en ‘n oogklap vir twee ure op ‘n dag oor sy gesonde oog dra om die regteroog te versterk. Nolan hou baie van blou en hy was in sy noppies toe hy ‘n blou bril met ‘n blou brilkassie kry.

‘n Sportman sal hy seker nooit wees nie, maar slim is hy verseker. Net vier jaar oud en hy ken reeds sy ma se selfoonnommer, kan vele woorde skryf, tot by 100 tel en selfs basiese somme maak.
Hy is mal oor diere, veral plaasdiere. Hy vertel hy hou die meeste van “perd, hondjie, koei, hoender, eend en vark.” Volgens hom is sy Ouma Broodjie sy gunsteling persoon en sy een oupa noem hy Oupa F.
Sy oupa het die neiging om die verkeerde antwoord te gee as Nolan hom vra wat is die kleure op sy speelgoed en watter vorm dit is.
Toe gee hy sy oupa ‘n F vir al die verkeerde antwoorde. Nolan gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. Tydens die onderhoud vra hy my pen want, “dis nou my beurt om te skryf.” Val ek amper op my rug toe hy 1 + 4 = 5 neerskryf.
Die klein kordaat lag lekker toe sy ma vertel hoe hy onlangs weer die eende op sy ouma se kleinhoewe gejaag het en dit reggekry het om ‘n hoender te vang.
Hy het al soveel in die lewe deurgemaak, maar Nolan is dapper en laat hom deur niks onderkry nie. Sy ogies blink altyd, hy lag maklik en steel harte al van sy babadae af.
