Ervare krokodilvanger gaan help om Vaalrivier-krokodil te vang
As 'n verstandige voorsorgmaatreël, word dit sterk aanbeveel om nie in die Vaalrivier in dei omgewing van Old Willow te swem, ski, ens. totdat die krokodil gevang is nie.
VANDERBIJLPARK – Die nuus dat ‘n sowat 3 meter lange krokodil in die Vaalrivier rondswem, het soos ‘n veldbrand versprei en belangstelling ver buite die Vaal se grense gelok.
Op Dinsdag het die gespesialiseerde GDARD-eenheid (Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling) wat verantwoordelik is vir wildpermitte, stropery en probleemdiere, in die area waar die krokodil opgemerk is, vergader saam met lede van die SAPD Watervleuel om die situasie en die beste pad vorentoe te bespreek.
Volgens die spesialiste is dit uiters moeilik om ‘n krokodil in ‘n rivier soos die Vaalrivier, wat oor sowat 1 200km strek, op te spoor en te vang.
Dit was dus baie goeie nuus toe Charles van der Merwe van Africa Crocodiles in Pongola, wat aansienlike ondervinding het in die aankeer en vangs van krokodille, goedgunstig ingestem het om na die Vaal te reis om te help.
“Die verkose uitkoms was nog altyd om die krokodil, indien moontlik, veilig te vang en te verskuif, en die feit dat Africa Crocodiles bereid is om ons te help, is beslis goeie nuus,” sê Rosemary Anderson, een van die riviereiendom-inwoners.
Niemand kan met sekerheid sê hoe lank die krokodil, wat vermoedelik sowat 15 jaar oud is na aanleiding van sy lengte, reeds in die Vaalrivier in die Vaal-area woon nie.
Die krokodil kon reeds lank, sonder dat dit opgemerk was, die area as sy habitat gekies het.
Daar is natuurlik ook sprake dat die krokodil sy weg in die rivier gevind het na die onderskeie vloede die afgelope paar jaar.
Van der Merwe is van voorneme om twee krokodilvanghokke in die rivier te plaas in ‘n poging om die krokodil veilig te vang, waarna die toepaslike reëlings vir die hertoewysing of verskuiwing daarvan getref kan word.
Hy het aangebied om sy waardevolle kundigheid en tyd gratis aan te bied. Hy is tans besig om finale reëlings te tref en as alles volgens plan verloop, sal hy Maandag reeds in die Vaal wees.
“Die Vaalrivier-gemeenskap het waarlik saamgestaan sedert hulle gehoor het dat Charles gaan kom help. Verskeie inwoners en ondernemings het dadelik na vore getree en bote, verblyf, etes, fisiese hulp en enigiets anders wat nodig mag wees aangebied om hom, sy span en die owerhede met die vangoperasie te help,” sê Anderson.

Waarnemings van die krokodil
Die krokodil is deur plaaslike inwoner Stephen Smith naby Marlbank in die Vaalrivier gesien, wat daarin geslaag het om ‘n foto te neem.
Die krokodil is intussen ook deur verskeie inwoners in die Old Willow-omgewing aan die Vrystaatkant van die rivier opgemerk. Dit wil voorkom of die besoeker in dié omgewing bly.
As enigiemand die krokodil sien, moet die inligting (area, tyd en indien moontlik ‘n foto of video) op die Safety on Vaal WhatsApp-groep gedeel word.
Lede van ons SAPD Watervleuel is op die groep, sodat inligting direk aan hulle deurgegee kan word. Om te weet waar die krokodil beweeg en waar dit lyk of hy tyd deurbring, kan waardevol wees om Charles te help om die beste plekke vir die vanghokke te bepaal.
Slender-snoutkrokodil
Volgens krokodilkenners lyk dit na ‘n Wes-Afrika slender-snouted krokodil. Die spesie word bestempel as skugter, mediumgrootte roofdiere wat hoofsaaklik vis vreet en selde mense aanval.
Aanvalle is uiters skaars omdat hul smal bekke gespesialiseer is om waterprooi te vang eerder as groot soogdiere.
Volwasse mannetjies kan ‘n lengte van 3 tot 4 m bereik, en op uitsondering kan groot mannetjies slender-snoutkrokodille sowat 4,5 m lank word. Hulle weeg gewoonlik tussen 125 en 325 kg.
