Migrasiekomitee doen verslag oor sy vordering
Die regering gee vandag terugvoer oor sy reaksie op toenemende kommer oor onwettige migrasie.
Die regering se hantering van onwettige migrasie kom vandag onder die soeklig wanneer ’n interministeriële komitee terugvoer oor sy werksaamhede gee.
Die komitee sal na verwagting vanoggend tydens ’n mediakonferensie uiteensit watter vordering reeds gemaak is om migrasieverwante uitdagings in Suid-Afrika te hanteer.
Die struktuur is saamgestel te midde van landwye betogings oor die teenwoordigheid van ongedokumenteerde buitelanders.
President Cyril Ramaphosa het ook verlede maand tydens ’n beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) streeklande aangemoedig om die onderliggende oorsake van migrasie aan te pak.
Volgens Ramaphosa behoort mense nie gedwing te word om hul lande te verlaat omdat hul veiligheid in gedrang is of omdat daar onvoldoende ekonomiese geleenthede bestaan nie.
