Wees deel van Parys se 150-jaar-feesvieringe
Dit is nie aldag dat ’n dorp sy 150ste bestaansjaar kan gedenk nie en dit gaan behoorlik gevier word!
Parys, die bekende juweel langs die Vaalrivier, vier hierdie besondere mylpaal op Donderdag, 24 September (Erfenisdag).
Inwoners van omliggende dorpe word genooi om hierdie historiese geleentheid te kom meemaak en die kleurvolle Parys 150-straatparade deur die dorp te beleef.
“Kom stap, kyk en kuier gerus saam. Parys gaan behoorlik oorborrel van aktiwiteite soos nog nooit tevore nie,” nooi die organiseerders.
Die parade beweeg deur Breë- en Waterstraat voordat dit by die brandweerstasie eindig, waarna die feestelikhede na die res van die dorp sal versprei.
Die hele Parys vorm deel van hierdie groot verjaardagviering!
Musikante en kunstenaars sal op verskeie plekke optree, terwyl uiteenlopende markstalle regoor die dorp opgerig word.
Daar sal iets vir elkeen wees om te geniet, van unieke handgemaakte produkte en plaaslike kuns tot smullekker kos.
Indien daar nog mense is wat ’n stalletjie wil bespreek, wil deelneem aan die parade of graag wil optree, kontak gerus:
Stalletjies: Audrey by 076 110 3116.
Parade: Selma by 084 269 2493.
Optredes: Lizette Combrinck by 079 293 1345.
