Local newsNews

‘Dit is tyd om die Vaal reg te ruk’ – Dr. Corné Mulder

Die VF Plus het tydens 'n besoek van die partyleier hul kandidate vir die munisipale verkiesing in Emfuleni voorgestel.

VANDERBIJLPARK – Dr. Corné Mulder, partyleier van die VF-Plus, het gister Vanderbijlpark en omgewing besoek. Dit is deel van sy Dit is Tyd – toer waar hy die land plat reis om met kiesers te gesels.

Dr. Corné Mulder tydens sy besoek in Vanderbijlpark. Foto: Gerda Bruinette

Oral waar hy besoek afgelê het, het die mense hom verwelkom in hul kenmerkende groen VF-Plus T-hemde. Hy het sy besoek aan die Vaaldriehoek gisteraand afgesluit by ‘n funksie by Stone Haven on Vaal.

Dr. Mulder het weer beklemtoon dat die VF Plus by hul waardes sal bly. Hy het gesê hy is optimisties oor die toekoms van Suid-Afrika en glo dat hul ʼn verskil op munisipale vlak kan maak.

Suid Gauteng Streek Leier Hein van der Lith. Foto: Gerda Bruinette

Volgens die VF Plus is die uitdaging ná 4 November 2026 om Emfuleni se bestuur, finansies, infrastruktuur en dienslewering sistematies te herstel. Dit is tyd om die Vaal reg te ruk.

Veral in Emfuleni het swak dienslewering, vervalle infrastruktuur en finansiële probleme ’n kritieke stadium bereik. Emfuleni het in Junie 2026 vir die negende agtereenvolgende jaar ’n onbefondsde begroting aanvaar.

Raadslid Piet Smith, Riana Smith en kandidaat Jo-Anne Geldenhuys. Foto: Gerda Bruinette

“Die Vaal het nie nog politieke beloftes nodig nie, maar ’n praktiese regrukplan. Die VF Plus se 2026-manifes bied juis so ’n tienpuntplan,” sê Mulder.

VF Plus-provinsiale leier: Gauteng, Mnr. Jaco Mulder het ʼn opsomming van die tienpuntplan aan die teenwoordiges voorgehou.

Dit sluit o.a. in billike tariewe en belastings, herstel van infrastruktuur, finansiële verantwoordelikheid, bekamping van besoedeling, waterverlies en misdaad, goeie waardes en gelyke regte. Hy het beklemtoon dat amptenare inwoners moet dien met meriete, kundigheid en ʼn diensleweringskultuur.

Van die CE2 Tak se lede saam met Wyk 3 se kandidaat. Agter: Mandy Lingervelder en kandidaat Johan Cronjé. Voor: Ronel Steenkamp en Shirley Labuschagne. Foto: Gerda Bruinette

Gisteraand is die party se burgemeester kandidate vir Emfuleni, Cobus Cato en Sedibeng, Julio Agrella voorgestel en is die party se kandidate ook amptelik aan die kiesers bekend gemaak.

Die VF-Plus het 15 kandidate wat in al 45 Wyke van Emfuleni staan. Van hulle staan in meer as een wyk.

Die kandidate is: Hein van der Lith, Annelie Kriel, Cobus Cato, Piet Smith, Johan Cronjé, Carla Cato, Jo-Anne Geldenhuys, Julio Agrella, Wouter Kriel, Welna van Niekerk, Nicolene Venter, Dawie Geldenhuys, Riaan Meyer, Eugene Lawrence en Jaco Maree.

Al die kandidate van die onderskeie partye is beskikbaar op die onafhanklike verkiesingskommissie se webtuiste. Om te sien wie staan in watter wyk gaan na https://findmycandidates.app/?province=&muni=&ward=0.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button