Driehoek slimkoppe ook skrywers
Hulle is net in Gr. 8, maar die twee Hoekies skitter van die Wiskunde Olimpiade tot by redenaars en spelfeeste.
VANDERBIJLPARK – Anja Nel en Inamari van Dyk is albei graad 8-leerders aan die Hoërskool Driehoek. Die twee se name duik gereeld op wanneer die skool op hul Facebookblad met die leerders se prestasies spog.
Inamari is ‘n top redenaar en het goud by die Wetenskap Expo verower, terwyl sy en Anja skitter in die wiskunde-olimpiade.
Die uitslae van die Provinsiale Rondte van die Wiskunde Olimpiade is gister vrygestel. Inamari van Dyk het eerste in haar kategorie in die provinsie geëindig, terwyl Anja Nel ’n puik vierde plek behaal het.
Inamari is boonop aangewys as die algehele wenner oor al vier kategorieë vir graad agt – ’n uitsonderlike prestasie.
Anja, Inamari en Waldo Labuschagne het op 11 September aan die Provinsiale Rondte van die WOW Spelfees deelgeneem. Anja het ‘n derde plek in die Engelse kategorie vir graad agt behaal en het deurgedring na die Nasionale Kompetisie, wat in Oktober in Stellenbosch plaasvind.
Anja en Inamari is ook gepubliseerde skrywers. Anja het reeds in graad vyf haar eerste Engelse boek, Everfrost Hill: Through the Portal geskryf waarmee sy in graad ses die Young Publishers-kompetisie gewen het.
Onlangs het sy verneem dat een van haar Afrikaanse gedigte, Idiome wat kopkrap kos en kortverhaal, Die einde wat lei na ’n nuwe begin gekies is vir publikasie in INK Skryf in Afrikaans se 2026-bloemlesing, INKSPRAAK 7.
Inamari se gedig, Vryheidsvlerke en kortverhaal, Dromer is ook vir die INKSPRAAK-bloemlesing gekies. Anja en Inamari is ook na die gala-aand en bekendstelling van die boek genooi.
