Gemeenskap span saam om Vosloopark skoon te maak
Plaaslike ondernemings, organiesasies en inwoners het Vrydagoggend saamgespan om Vosloopark skoon te maak.
DRIE RIVIERE – Verskeie plaaslike organisasies, ondernemings en gemeenskapslede het Vrydagoggend, 18 September, saamgespan om Vosloopark op te ruim.
Proudly Three Rivers en River Square se spanne het die voortou met die skoonmaakwerk geneem, terwyl Sekuriteit Sonder Grense daar was om ’n wakende oog te hou en almal se veiligheid te verseker.
Steiner Hygiene, Stallion Security en lede van die gemeenskap het ook aan die skoonmaakaksie deelgeneem.

Volgens Sekuriteit Sonder Grense wys die samewerking tussen plaaslike ondernemings, aktiewe inwoners en veiligheidsorganisasies wat bereik kan word wanneer die gemeenskap verantwoordelikheid vir sy openbare ruimtes aanvaar.
Die organisasie het almal wat hul tyd en energie aan die projek afgestaan het, bedank en gesê die deelnemers stel ’n goeie voorbeeld van gemeenskapstrots.

