Rotary Anns geniet besoek aan kleuterskool
Die Rotary Anns is bekend vir hul liefdadigheidswerk en gemeenskapsiens. Onlangs het hul Global Handwash Day op 'n gepaste manier gevier.
VEREENIGING – Dis nie aldag dat mens (kleuterskoolonderwysers die uitsondering) kans kry om saam met ʼn groep kleuters te verf en te speel nie.
Die Rotary Anns het op 15 Oktober by die Play and Learn-kleuterskool gaan kuier as deel van Globale Handewasdag. Die 18 kleuters het met hope energie geluister terwyl Rotary Ann President Ina Labuschagne vir hul geleer het hoekom en hoe hande gewas moet word.
Daarna het die pret behoorlik begin toe almal hul hande kon verf en op ʼn plakkaat druk. Die kleuters het na die verfsessie hul hande met groot ywer gewas en afgedroog met die hulp van die Rotary Anns. Hulle het ook ʼn handwas liedjie geleer.
Elke leerder het ʼn geskenkpakkie ontvang met seep, ʼn waslap en koekies om huis toe te vat. Die besoekers het ook gesorg vir sap en chips vir elke kind.
Ina sê: “Ons as Rotary Anns het die oggend vreeslik baie saam die kinders geniet. Ons het weer soos kinders gevoel. Elke kind en die kind se gesondheid en welstand is baie belangrik vir ons.”
