Petrol styg vanaand met meer as R3 per liter
Motoriste sal vanaf Woensdag aansienlik meer betaal wanneer Oktober se brandstofprysverhogings in werking tree.
VAALDRIEHOEK – Motoriste wat hul tenks voor die jongste petrolprysverhoging wil volmaak, het nog tot vanaand om middernag kans.
Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het bevestig dat 93-oktaanpetrol op Woensdag 7 Oktober met R3,12 per liter styg.
Die prys van 95-oktaanpetrol styg met R3,33 per liter.
Die bevestigde verhogings is hoër as die vroeëre ramings waaroor Vaalweekblad berig het.
Vir ’n motoris wat 50 liter petrol ingooi, beteken dit ’n bykomende R156 vir 93-oktaan of R166,50 vir 95-oktaan.
Diesel se groothandelprys styg met sowat R2,84 per liter vir die 0,05%-swaelgraad en R3,24 vir die 0,005%-swaelgraad. Die groothandelprys van paraffien styg met R3,58 per liter.
Volgens die departement word die verhogings hoofsaaklik deur duurder internasionale olie- en petroleumprodukte aangedryf. Die gemiddelde Brent-ruolieprys het gedurende die oorsigtydperk van $87,89 tot $101 per vat gestyg.
Die rand het gemiddeld effens teenoor die dollar versterk, maar dit het min verligting gebring.
