Voormalige Bafana-kaptein glo in botsing in Vanderbijlpark
Daar word beweer dat die bestuurder van die voertuig onder die invloed van drank was.
VANDERBIJLPARK – ’n Voormalige Bafana Bafana-kaptein was volgens inwoners in ’n motorongeluk op Hertz Boulevard in Vanderbijlpark betrokke.
Die ongeluk het volgens inwoners by die verkeersirkel oorkant Emfuleni Estate plaasgevind. Die voertuig het glo die pad byster geraak en teen die muur van Trevesa Court gebots.
Inwoners het beweer dat die bestuurder moontlik onder die invloed van alkohol was. Dié bewering kon egter nie onafhanklik bevestig word nie.
Sersant Sabelo Sigcu, die polisiewoordvoerde van Vanderbijlparkr, het by navraag gesê hy is tans by die Suid-Afrikaanse Polisdiens se hoofkantoor in Johannesburg en sal eers môre kan bevestig of die voorval by die polisie aangemeld is en of enige saak geopen is.
Die identiteit van die bestuurder, asook die presiese omstandighede en tyd van die ongeluk, kon teen druktyd nie deur die polisie of enige ander betroubare bron bevestig word nie.
