Sperdatum vir spesiale stemme kom nader
Kiesers wat nie op verkiesingsdag hul kruisie by hul gewone stemlokaal kan trek nie, het nog net ’n paar dae om vir ’n spesiale stem aansoek te doen.
Aansoeke vir spesiale stemme in vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing sluit Maandag, 12 Oktober, om 17:00.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het bevestig dat spesiale stemme op 2 en 3 November uitgebring sal word, voordat die plaaslike regeringsverkiesing op Woensdag, 4 November, plaasvind.
’n Spesiale stem is beskikbaar aan geregistreerde kiesers wat nie op verkiesingsdag by hul geregistreerde stemlokaal kan stem nie.
Dit sluit onder meer kiesers in wat weens werksverpligtinge of ander omstandighede nie op 4 November by hul stemlokaal kan uitkom nie. Mense wat in noodsaaklike dienste werk, asook mediapersoneel wat op verkiesingsdag aan diens is, kan ook aansoek doen.
Kiesers wat weens hul fisieke toestand, gestremdheid of swangerskap nie na ’n stemlokaal kan reis nie, kan vir ’n spesiale tuisbesoek aansoek doen.
Aansoeke kan aanlyn deur die OVK se webwerf gedoen word.
Kiesers wat by hul stemlokaal ’n spesiale stem wil uitbring, kan ook hul ID-nommer per SMS na 32249 stuur. Die SMS kos R1.
Aansoeke kan ook by ’n plaaslike OVK-kantoor ingedien word.
Kiesers wie se aansoeke goedgekeur word en wat wel na hul stemlokaal kan gaan, sal op 2 of 3 November by die stemlokaal waar hulle geregistreer is, hul stem kan uitbring.
Aansoekers moet geregistreerde kiesers wees en oor ’n geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument beskik.
Die sperdatum vir alle aansoeke is 17:00 op Maandag, 12 Oktober.
