JCS bevestig drie leerlinge en skoolhoof se dood
Skool gaan eers toestemming by ouers kry voordat name van oorledenes bekend gemaak word.
SASOLBURG – Drie leerlinge van JCS Independent School in Vaalpark en die skoolhoof, wat die skoolvoertuig bestuur het, is dood nadat die minibus en ’n swaar voertuig Donderdagmiddag 8 Oktober op die R57 by die R59-brug in ’n kop-aan-kop-botsing betrokke was.
Die skool het die sterftes Vrydag 9 Oktober in ’n amptelike verklaring bevestig. Volgens die skool was die voertuig op pad om leerlinge huis toe te neem toe die ongeluk plaasgevind het.
Die oorlede leerlinge was volgens noodpersoneel tussen sewe en 11 jaar oud.
Nog leerlinge is in die ongeluk beseer en ontvang mediese behandeling. Een van die beseerdes, ’n tienjarige leerling, is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer.
Volgens ooggetuies was die bussie op pad na Vaalpark toe en het dit glo in die verkeerde baan beland. Die bestuurder van die swaar voertuig het glo probeer uitswaai, maar kon nie die botsing vermy nie. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Die skool het bevestig dat die families van die oorlede leerlinge reeds direk in kennis gestel is. Die name van die oorledenes sal nie bekend gemaak word voordat die families toestemming daarvoor gegee het nie.
Die skool het die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Departement van Onderwys en ander betrokke owerhede oor die ongeluk ingelig en sê hy werk met die ondersoek saam.
Berading sal by die skool beskikbaar wees wanneer leerlinge terugkeer. Alle akademiese en buitemuurse aktiwiteite is intussen opgeskort.
Die skool het ook ’n beroep op die publiek gedoen om nie onbevestigde inligting, foto’s of video’s van die ongeluk op sosiale media te versprei nie.
