Mooilande se Oom Gert vier sy 97ste verjaarsdag
Met ’n skatkis vol staaltjies kan hy terugkyk op ’n lewe wat strek van die Vrystaatse vlaktes tot agter die stuur van sy geliefde Suzuki Jimny wat hy steeds bestuur.
VEREENIGING – As die bome op sy kleinhoewe in Mooilande kon praat, sou hulle getuig van die man wat elke enkele boomgat self met ’n graaf uitgegrawe het.
Vandag staan daardie bome hoog en welig, net soos die lewe van hul planter.
Oom Gert Hendrik Marais het op 3 Oktober sy 97ste verjaardag gevier. Dis ’n mylpaal wat min beskore is.
Oom Gert, in sy dae alom bekend en geliefd as “Ou Gertjie van die Poskantoor”, is ’n lewende legende in die streek.
Diegene wat Oom Gert ken, beskryf hom as ’n eerbare, geliefde en diep godsdienstige man. Hy vloek nie en skinder ook nie.
Oom Gert is op 3 Oktober 1929 gebore en het sy eerste lewensjare op ’n plaas in die Heilbron-distrik deurgebring.
Hy het sy laerskooljare aan die Laerskool Blesbokfontein voltooi en sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Vereeniging.
Na skool was hy eers by Everite werksaam, maar het sy roeping gevind toe hy by die Departement van Pos- en Telegraafwese aangesluit het.
Daar is hy opgelei as telefoontegnikus, ’n ambag wat hy pligsgetrou vir ’n volle 40 jaar tot met sy aftrede beoefen het.
Sy gesin vertel dat hy, wanneer hy telefoonlyne tussen die boere van die Vaaldam en Bloemendal tot amper by Heidelberg gaan regmaak het, met nuwe vriendskappe teruggekeer het wat ’n leeftyd sou hou.
Hy is op 4 November 1950 met die liefde van sy lewe getroud – ’n maand voor sy 21ste verjaardag.
Hulle het in 1961 ’n nuwe tuiste op ’n kleinhoewe in Mooilande gevind, waar Oom Gert steeds woon.
Daar het Oom Gert met sy eie twee hande ’n tuiste gebou wat dekades se goeie herinneringe sou huisves.
Sy vrou en beste maat is ná 66 jaar se getroude lewe in 2017 oorlede.
Uit hul huwelik is vyf kinders gebore, en vandag is Oom Gert geseën met 13 kleinkinders en 13 agterkleinkinders.

Babers, voëls en die Kruger Nasionale Park
Oom Gert het deur die jare verskeie stokperdjies gehad.
Hy het voorheen met eksotiese voëls en papegaaie geboer, terwyl sy liefde vir die natuur hom keer op keer na die Kruger Nasionale Park gelok het.
Sy grootste passie is egter hengel. Oom Gert het twee jaar lank op Suid-Afrikaanse kampioenskapsvlak gehengel en spog met ’n hengelprestasie wat min hom sal nadoen.
Tydens sy eerste SA’s by die Hardapdam in Namibië het hy die kompetisie gewen met die grootste baber – ’n monster van 16,97 kg.
Wat die prestasie so buitengewoon gemaak het, is dat hy die vis met ’n visfilet gevang het op ’n lyn met slegs 6 kg breekkrag (12 pond). Dié rekord het vir drie jaar gestaan.
Oom Gert vertel vandag nog met groot genot van daardie kragmeting! Hy het immers nog op 93-jarige ouderdom lekker gaan kamp en hengel.

Die geheime resep
“Ek het nie ’n spesiale resep nie, ek is net geseën met goeie gesondheid,” sê Oom Gert.
Hy skroom nie om die goeie dinge van die lewe te geniet nie. “Ek hou van ’n lekker vetterige stukkie skaapvleis, ’n hanepootjie, en natuurlik ’n soet dingetjie ná ete.”
Hoewel sy gehoor nie meer is wat dit was nie, is sy oë steeds skerp.
Nuwe Jimny
So ook sy lus vir die pad: Oom Gert het jare lank met ’n handrat-Jimny gery, maar het dit verlede jaar vir ’n splinternuwe outomatiese Jimny ingeruil, waarmee hy selfs alleen Potchefstroom toe gery het om by die kinders te kuier.
Sy rybewys is geldig totdat hy in 2029 die 100-jaar-merk bereik.
“Ek gaan dit nie weer hernu nie,” skerts hy. “Daarna gaan ek maar onwettig bestuur!”
Vir sy kinders, kleinkinders en die hele Mooilande-gemeenskap is Oom Gert Marais ’n rolmodel en ’n baie geliefde pa en oupa.
Baie geluk met 97 geseënde jare, Oom Gert!


