News

Een van Vaal se ankers het gesink

Geliefde onderwyser verloor stryd teen kanker.

VANDERBIJLPARK – Vir duisende oud-leerlinge was sy Juffrou Heila. Vir haar vriende was sy Heila, ’n vrou met ’n sterk persoonlikheid met liefde vir haar medemens wat oor besondere vermoë beskik het om ander welkom te laat voel.

Heila Haasbroek is op 28 September in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

Sy is op 6 Junie 1942 gebore en het haar onderwysopleiding aan Heidelberg Kollege voltooi.

Daarna het sy haar loopbaan in Vanderbijlpark begin en vir baie jare by die Laerskool Hendrik van der Bijl skoolgehou. Sy het as departementshoof afgetree en later ook by Sedibeng Kollege klas gegee.

Vir baie oud-leerlinge het hul verhouding met haar egter nie geëindig toe hulle die skool verlaat het nie.

Retha Fitchat, voormalige redakteur van Vaalweekblad, wat in graad een en twee deur Haasbroek onderrig is, het haar op Facebook beskryf as een van Vanderbijlpark se “ankerpunte” en iemand wat vir talle kinders soos ’n tweede ma was.

Fitchat het vertel hoe Haasbroek jare later, toe sy (Retha) 60 geword het, gevra het dat sy haar voortaan op haar voornaam noem. Haasbroek het ook geskerts dat Fitchat nie vir die ander Rotariërs moes vertel dat sy vir haar skoolgehou het nie, omdat dit haar ouderdom sou verklap.

Volgens Petro Bester, ‘n vriendin van meer as 30 jaar, was Haasbroek baie by die gemeenskap betrokke. Sy was ’n lid van die burgemeesterskomitee en het by talle funksies as gasvrou opgetree.

Sy was vir ’n kort tyd lid van die Vanderbijlpark Rotariërklub en later jare lank betrokke by die C4C (Children for Children)-projek van die Riverside Rotary-klub. In haar jonger jare was sy en haar voormalige man, Eddie, ook lede van die Vereeniging Operatic and Dramatic Society.

Heila en Eddie het twee kinders, Dirk en Ansomé, gehad. Ansomé is op ’n jong ouderdom oorlede. Eddie is ’n paar jaar gelede oorlede.

Haasbroek het sowat ses maande gelede na die Kaap verhuis om by haar seun, Dirk, te woon nadat haar gesondheid weens kanker begin agteruitgaan het. Haar toestand het die afgelope twee maande vinnig verswak en sy is in ’n versorgingsoord opgeneem.

Omdat die meeste van haar vriende steeds in Vanderbijlpark woon, is daar nie ’n begrafnisdiens in die Vaal gehou nie. ’n Verassingsdiens is gehou.

Die boodskappe wat ná haar dood op Facebook gedeel is, vertel egter van die indruk wat sy op mense gemaak het. Hanli Meyer, wat ook deur Haasbroek onderrig is destyds, het vertel dat sy haar nog verlede week wou bel om haar te vertel dat sy ’n ouma gaan word.

“Sy was my graadeen-juffrou ook. Sy was die opgewekste mens al het sy so baie hartseer beleef in haar lewe. En jy kon haar altyd deur ’n ring trek.”

Vir baie mense sal dit uiteindelik die klein, persoonlike dingetjies wees wat hulle van Juffrou Heila onthou: die verjaarsdagoproep, belangstelling in hul lewens, die grappies en die vriendelike woord.

Vir ’n vrou wat soveel kinders in haar klaskamer gesien grootword het, is dit dalk die mooiste manier om onthou te word as iemand wat omgegee het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button