Nasionale Wenner van ATKV Junior Olimpiade
Twee van Hoërskool Driehoek se graad 8's het besonders goed gevaar in die ATKV Junior Olimpiade. Inamari van Dyk het almal landswyd uitgestof
VANDERBIJLPARK – Een van Hoërskool Driehoek se graad 8’s, Inamari van Dyk het dit weergedoen. Dié slimkop wat alles wat sy aanpak in goud verander het hierdie jaar al by alles van die Wetenskap Expo tot by ‘n skrywerskompetisies toekennings huis toe gebring.
Nou is sy met ‘n skitterende 94% aangewys as die Provinsiale Wenner Gauteng én die Nasionale Wenner van die ATKV Junior Olimpiade. Inamari is die enigste graad 8-leerder onder die Top 4.
Nog een van Driehoek se akademiese en kultuuruitblinkers, Anja Nel (graad 8) het onder die Top 20 in Gauteng geëindig met 84%.
Hoërskool Driehoek het op die skool se Facebookblad gesê: “Hierdie besondere prestasies getuig van akademiese uitnemendheid, harde werk en deursettingsvermoë. Baie geluk, Inamari en Anja! Julle het Hoërskool Driehoek se naam hoog gehou en ons is ongelooflik trots op julle!”