Vier wat sterf in R59-tragedie word môre gegroet
Die skool se bestuur het aangedui dat enigeen die diens kan bywoon.
VAALPARK – Die gedenkdiens vir die drie leerlinge en pastoor Johan “Zet” Oosthuizen (60), wat op Donderdag 8 Oktober in ’n gru-ongeluk op die R59 gesterf het, vind môreoggend om 10:00 by Vaalpark Primêre Skool plaas.
Die Vaaldriehoekse gemeenskap is steeds in rou ná die noodlottige botsing waarin die drie leerlinge van JCS Independent School en die skool se direkteur, Oosthuizen, hul lewens verloor het.
Die skool- en ouergemeenskap het Maandagaand 12 Oktober by die skool ’n kersligdiens vir die vier oorledenes gehou.
Die name van die drie leerlinge is intussen in die media bekend gemaak. Volgens ’n berig deur NovaNews, wat konstabel Kelello Patsa, polisiewoordvoerder in die Fezile Dabi-distrik, aanhaal, is die oorledenes die sibbe Amandla (7) en Lwazi (9) Buthelezi, asook Uriel Govender (6).

Intussen is ’n skarebefondsingsveldtog op BackaBuddy begin om die familie van Dane Greyling (10), wat ernstig in dieselfde ongeluk beseer is, by te staan. Sy is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer.
Volgens die veldtog het Dane onder meer ’n gebreekte rug, gebreekte ribbes, ’n gebreekte linkerbeen en breinbeserings opgedoen. Sy kan volgens die veldtog nog nie selfstandig asemhaal nie. ’n Operasie aan haar ruggraat was vir 9 of 10 Oktober beplan.
Die veldtog is deur Lorelise Myburgh begin met ’n teikenbedrag van R150 000 om die Greyling-familie te ondersteun. Teen die tyd dat die veldtog nagegaan is, was R113 586 ingesamel.
Mense wat Dane en haar familie finansieel wil bystaan, kan ’n bydrae lewer deur die volgende skakel te besoek: https://www.backabuddy.co.za/campaign/10-year-old-survivor-dane-greyling.