Leeu steeds soek: Inwoners gemaan om versigtig te wees
Inwoners word gevra om kinders en troeteldiere binnenshuis te hou en nie self na die dier te gaan soek nie.
REDAN. – Die leeu waarna daar sedert gisteroggend, 14 Oktober, in die Redan-omgewing gesoek word, is nog nie opgespoor nie.
Terwyl talle inwoners navraag gedoen het oor die soektog, het Gemeenskapspolisiëring Midvaal ’n dringende veiligheidswaarskuwing uitgereik oor ’n leeumannetjie wat volgens berigte in die gebied rondloop.
Gemeenskapspolisiëring Midvaal doen ’n beroep op inwoners om uiters versigtig te wees en kinders en troeteldiere binnenshuis te hou totdat die gebied veilig verklaar is.
Inwoners word ook aangeraai om stap, draf en fietsry, veral in afgesonderde gebiede, te vermy en vee en huisdiere waar moontlik te beveilig.
Die organisasie waarsku dat niemand die leeu moet nader, volg, van naby probeer afneem of probeer vang nie.
“Moenie die dier probeer opspoor of konfronteer nie,” lui die waarskuwing.
“Moenie hardloop as jy die leeu teëkom nie. Bly kalm, vermy skielike bewegings en beweeg stadig agteruit.”
Volgens die organisasie moet mense wat die leeu teëkom nie hardloop nie, maar kalm bly, skielike bewegings vermy en stadig agteruit beweeg terwyl hulle na die dier bly kyk.
Enige waarneming moet onmiddellik by die SAPD by 10111 of by lede van die gemeenskapspolisiëring aangemeld word. Die presiese ligging en tyd van die waarneming moet verskaf word.
Die organisasie het inwoners verder versoek om nie ongeverifieerde inligting te versprei nie. Verdere terugvoer sal gedeel word sodra bevestigde inligting beskikbaar is.

