‘Inwoners kom eerste, selfs met verdeelde raad’ – Kingsol
Daar is verskeie opsies op die tafel vir 'n koalisieregering in Emfuleni.
Die DA se burgemeesterskandidaat vir die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, Kingsol Chabalala, sê ondanks die feit dat die munisipaliteit op ‘n verdeelde raad (hung council) afstuur, sal sy party verseker dat inwoners eerste gestel word.
Chabalala is sedert 2014 ‘n lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer vir die DA.
Hy was ook in 2016 die DA se burgemeesterskandidaat, maar die ANC het toe beheer behou. Hy was in 2017 drie keer buite sy woning geskiet, maar het dit oorleef.
Hy het sedert die DA na die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November as die grootste party in Emfuleni aangewys is, dit duidelik gestel dat hy oorlog verklaar teen nepotisme, rioolstortings, droë krane, slaggate en werkloosheid.
Hy het ook gesê dat alle kontrakte wat die munisipaliteit met diensverskaffers het, hersien sal word, veral in die inkomstedepartement. Ongelukkig het die DA net-net nie ‘n volstrekte meerderheid behaal nie.
Daar sal dus nou koalisies gevorm moet word.
Volgens die OVK se finale uitslae wat op 8 November verklaar is, het die DA 37 van Emfuleni se 90 setels (40,9% van die stemme) gewen.
Dit is nege kort van die 46 wat vir ‘n meerderheid nodig is.
Die munisipaliteit bestaan uit 45 wyke.
Geen koalisie is nog aangekondig nie.