Photo GalleriesSportSportSport

Abbott-familie tradisie leef voort

Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Noem maar die sport en daar is ‘n goeie kans dat een van die Abbott’s al provinsiale of nasionale kleure daarin verwerf het. Die 16-jarige Kayla Abbott, die jongste spruit van Heinrich (47) en Lea (45), is nie van plan om die familie-tradisie te verbreek nie. Sy volg in haar …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Noem maar die sport en daar is ‘n goeie kans dat een van die Abbott’s al provinsiale of nasionale kleure daarin verwerf het.
Die 16-jarige Kayla Abbott, die jongste spruit van Heinrich (47) en Lea (45), is nie van plan om die familie-tradisie te verbreek nie.
Sy volg in haar ouer broer Heinrich (21) en suster Zané (19) se voetspore.
Haar harde werk is onlangs in Johannesburg by die Wanderers Krieket-stadion beloon toe sy tydens ‘n glansgeleentheid as Central Gauteng Lions se beste o.16-dogterspeler aangewys is.
“Dit is sover beslis die hoogtepunt van my krieketloopbaan,” sê sy. Haar sussie Zané, het haar Suid-Afrikaanse kleure in ringbal verwerf en Gauteng- en provinsiale kleure onderskeidelik in netbal en hokkie verdien. Ouboet Heinrich het ook sy provinsiale kleure in ringbal verwerf.
Haar liefde en passie vir die sport het op ‘n jong ouderdom vlamgevat toe sy as baljoggie vir haar broer-hulle se parkie-krieketwedstryde opgetree het. “Op laerskool wou ek al krieket gespeel het, maar hulle wou nie toelaat dat dogters saam met die seuns speel nie,” vertel sy.
Sy het in graad 5 die geleentheid gekry om vir die Hoër Tegniese Skool Carel de Wet se eerste dogterskrieketspan te speel.
Sy het in 2016 vir die Hoërskool Transvalia se eerste krieketspan begin speel en die res is geskiedenis.
Haar sporttalente is ook nie net tot wilgerlatswaai beperk nie. Sy swaai graag haar gholfstokke saam met haar pa en is ook ‘n bedrewe tennis- en ringbalspeler.
Maar krieket bly haar eerste liefde. “My droom is om eendag saam met Laura Wolvaardt, Mignon du Preez en Shabnim Ismail vir die Proteas te speel,” sê sy.
Hoewel die grendeltyperk dit bitter moeilik maak om krieket-spesifieke oefeninge in te kry, draf sy elke oggend en doen kragoefeninge in haar ouers se tuisgimnasium.
Haar veelsydigheid maak van haar ‘n aanwins vir enige span en met persoonlike beste boulsyfers van 5-5-2 en hoogste telling van 95 lopies van 62 aflewerings is dit geen wonder dat daar groot dinge vir haar voorspel word nie. Die feit dat sy met gemak links en regs kan kolf, laat haar aandele as speler verder styg.

Kayla Abbott is ewe tuis op die hokkie- en krieketveld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button